’n Paniekgolf weens bose narre wat Franse dorpe terroriseer, het na die suide van die land versprei; polisie het Saterdagaand 14 tieners in hegtenis geneem wat as die poetsbakkers aangetrek is. Hulle het pistole, messe en bofbalkolwe by hulle gehad.

’n Polisiebron het gesê die groep tieners is in die parkeerterrein van ’n hoërskool in die hawedorp Agde voorgekeer. Verskeie ander klagtes oor “gewapende narre” het oor die naweek in die gebied ingestroom.

In die Mediterreense stad Montpellier is ’n man wat as ’n nar vermom is in hegtenis geneem nadat hy ’n voetganger met ’n ysterstaaf aangerand het, terwyl drie motoriste in verskillende dorpe gekla het oor “vreesaanjaende narre” wat hulle gedreig het.

Die verskynsel van mense wat as ’n bose nar aantrek en omstanders terroriseer – dit het ook al in Amerika en Brittanje voorgekom – het in vroeg Oktober in die noorde van Frankryk kop uitgesteek.

In die dorp Bethune, in die noorde van Frankryk, het een van dié narre verlede week ’n opgeskorte vonnis van ses maande ontvang nadat hulle in die kostuum omstanders gedreig het.

Met nagemaakte wapens is hierdie “narre” meestal “buite skole opgemerk, maar ook op openbare paaie, in struike en in ’n plein. Hul teikens is dikwels jong kinders of tieners, maar ook volwassenes,” het ’n polisiebron in noordelike Frankryk aan AFP gesê.

Daar word wyd gegis oor die oorsprong van die gier in ’n land waar die Amerikaanse vakansiedag Halloween nie veel aftrek kry nie.

Dit sluit in ’n uitdaging op sosiale media, ’n video op YouTube van ’n vreesaanjaende nar wat ’n poets op mense bak (wat al sowat 31 miljoen keer gekyk is) of selfs ’n onlangse episode van die gewilde TV-reeks American Horror Story met Twisty die moordlustige nar.

Nadat daar ’n gerug was dat daar ’n nar die dorp Mulhouse is, het vyf tieners hulle Woensdag bewapen met ’n bofbalkolf, traangas-houer, hamer en knuppel om die gereg in eie hande te neem. Hulle is in hegtenis geneem en later vrygelaat, maar die voorval het die nasionale polisie laat ingryp om die histerie te demp. “Sedert middel-Oktober doen daar ’n video en gepaardgaande gerug die ronde; dit saai kommer onder die bevolking oor die teenwoordigheid van dreigende en aggressiewe narre in Frankryk,” het die polisie in ’n verklaring gesê.

’n Vrees vir narre staan as koulrofobie bekend.

Die verklaring het gewaarsku “ten spyte van verskeie aanmeldings aan die polisie, was daar net ’n paar mense gesien wat as narre aangetrek is en mense vir die pret skrikmaak.

“Dit is simptomaties van die invloed van die internet; hierdie verskynsel kan lei tot skadelike individuele dade en versteurings van openbare orde.”

Of hulle ’n rubberhoender by ’n kinderpartytjie het of die protagonis in ’n gruwelfliek is, het narre al lank die vermoë om mense te vermaak en bang te maak.

Berugte narre sluit in die Amerikaanse reeksmoordenaar en -verkragter John Wayne Gacy, wat as Pogo die nar aangetrek het en die fiktiewe Pennywise in Stephen King se fliek It.

’n Vrees vir narre staan as koulrofobie bekend.