Die akteur, sanger en liedjieskrywer Richard van der Westhuizen het geen erg aan duur en oorbodige geskenke nie; hy verkies “die musiek van gesels” met vriende en familie.

“Dit lyk my die kern van Kersfees is deesdae winkelsentrums: koop en koop en meestal irriterende, geblikte musiek,” sê hy. “Ek heg geen waarde daaraan nie; ek waardeer die teenoorgestelde.”

En dit is presies wat hy en sy vrou, Suzanne, hierdie Desember doen.

Gedurende die week voor Kersdag kuier hulle in Durban by haar 97-jarige ma. En natuurlik gaan hy van die geleentheid gebruik maak om baie kerrie te eet, vertel Richard laggend.

Daarna vlieg hulle Kaap toe om Kersdag by familie op Somerset-Wes deur te bring. “Die hele uitgebreide familie gaan op Kersdag saamkuier,” vertel hy. “My suster en swaer, hul kinders en hul eggenote en kinders en geliefdes.”

Hy beplan om dié dag “goed te gesels en lekker te eet”! Elkeen sal ’n “gereg en toegedraaide verrassing” saambring.

Daarna gaan hy en Suzanne ’n week lank op ’n plaas in die Franschhoek-distrik kuier.

Die een hoogtepunt wat vir hom van die afgelope jaar uitstaan, is sy nuutste album, Yster en Vuur, wat tans op die rakke is.

En wat is sy Nuwejaarswens vir homself? ’n Paar dae in Namakwaland gedurende die winter, sê hy. “Omdat ek van die plek hou.”