Johannesburg – Die paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal nie ’n elektroniese monitor om sy enkel hoef te dra nadat hy komende Vrydag uit die tronk vrygelaat word nie, het die departement van korrektiewe dienste gesê.

“Nee, absoluut nie,” het Logan Maistry, ’n woordvoer vir die departement, Maandag by navraag gesê.

Oscar sal een van 3400 mense landwyd wees wat onder korrektiewe toesig vrygelaat word nadat hulle ’n sesde van hul vonnis uitgedien het.

Daar is tans 60 000 wetsoortreders in Suid-Afrika wat onder korrektiewe toesig is. Dit sluit persone in wat uit is op parool.

Maistry het bygevoeg dat Oscar se vrylating nie beteken sy vonnis van vyf jaar is verkort nie. Volgens hom het die paroolraad op 5 Junie vergader en Oscar se vrylating onder korrektiewe toesig goedgekeur.

Ingevolge die Wet op Korrektiewe Dienste kan meer besonderhede nie bekendgemaak word nie. Onder die moontlike voorwaardes van korrektiewe toesig tel weerhouding van alkohol en dwelms, om geen kontak met sekere persone te hê nie en om binne ’n sekere distrik te moet bly.

Oscar het reeds tien maande van sy vonnis uitgedien wanneer hy Vrydag uit die Kgosi Mampuru-tronk vrygelaat word.

News24