Kaapstad – Daar sal waarskynlik geen beurtkrag tot minstens Mei 2016 wees nie, sê  Eskom se uitvoerende hoof, Brian Molefe.

Terwyl onderhoud aan Eskom se verouderende toerusting opgeskerp is, het die kragvoorsiener daarin geslaag om die instel van beurtkrag meer as 80 dae agtereenvolgens af te weer.

“Ons doen al die onderhoud sonder beurtkrag,” sê Brian. “Ons sal in Desember ons onderhoud uitbrei wanneer mense met vakansie gaan. Ons sal heelwat eenhede by die onderhoudsprogram voeg om die agterstand in te haal.

“Ons voorsien geen beurtkrag tot ten minste die 30ste April nie,” sê hy en voeg by Eskom werk daaraan om die agterstand in onderhoud voor die winterseisoen uit te wis. “Ons weet wanneer die probleme gaan opduk; dus weet ons wanneer om planne in werking te stel.”

Brian het aan die parlement gesê Eskom vier 50 dae sonder beurtkrag en 87 dae waarop net twee en ’n half uur beurtkrag plaasgevind het.

“Ná Julie was ladingsverminderings en beurtkrag baie minimaal,” sê hy.

“Vorentoe sal dit nie nodig wees om (die publiek oor die daaglikse beurkragstatistiek) in te lig nie, want dit sal ’n normale verskynsel wees om elektrisiteit te hê,” sê hy.

Terwyl Eskom gelukgewens is dat hulle kragonderbrekings kon vryspring, het kragverbruik drasties afgeneem sedert die begin van 2015. Dit het kommer laat ontstaan dat Eskom beurtkrag vrygespring het danksy die afname in verbruik.

Die News24 voices blogger Dwaine van Vuuren het gister geskryf ’n ontleding van die data van Stats SA gee die regte rede vir geen beurtkrag.

“Elektrisiteitslewering het skerp gedaal, want AANVRAAG het drasties afgeneem tot 2008-resessievlakke; nie ’n goeie teken vir die SA ekonomie nie,” skryf hy.

Bron: News24