’n Vrou van Kaapstad is woedend nadat ’n huilende baba die afgelope week in ’n warm bakkie gelaat is terwyl die baba se ma nêrens in sig was nie.

“Ek was so kwaad,” vertel Ashley Morris oor die voorval. “Ek kon dit nie glo nie.”

Sy was so ontsteld toe sy die verdrietige babadogtertjie hoor dat sy die elektriese venster van die Isuzu waarin die baba was, met haar elmboë afgedwing en die kind uit haar stoeltjie bevry het.

Ashley het Maandagaand omstreeks sesuur saam met ’n vriend by die Akeso psigiatriese hospitaal in Kenilworth aangekom. “Om die een of ander rede het ek ’n gevoel gehad dat ons ’n bietjie vroeër moes gaan. Ons het na die eekhorinkies sit en kyk toe ek skielik die baba hoor huil. My moederlike instink het onmiddellik oorgeneem en ek het paniekerig geraak.”

Ashley sê toe sy die baba optel, het die kleinding dadelik ophou huil en begin glimlag. Sekuriteitsbeamptes by die hospitaal het op die toneel aangekom en probeer vasstel wat aangaan.

Ashley, wat die voorval in ’n Facebook-inskrywing gedeel het, sê die ma het nie eens gelyk asof sy omgee dat ’n vreemdeling haar kind vashou nie. Sy het onderneem om die saak verder te voer, maar het tot op hede nog geen amptelike klag oor die voorval ingedien nie.

Die weerdiens het Maandag 27 °C vir die Moederstad voorspel.

Die ma van die babadogtertjie sê sy het elke vyf minute by haar baba in die motor gaan inloer. “Sy het die hele dag niks geslaap nie en ek het geweet sy sou binne ’n driekwartier wakker word. Die hospitaal het ook ondersoek gaan instel na die voorval en (op beeldmateriaal van ’n veiligheidskamera) kan ’n mens sien dat ek elke vyf minute by die motor was.”

Sy sê sy het nie haar baba uit Ashley se arms probeer gryp nie omdat sy kon sien dat sy baie kwaad was en nie in ’n struweling met haar betrokke wou raak nie.

“Ek sal nooit my baba in ’n openbare plek los nie. Akeso het sekuriteitshekke en ek kon die motor sien vanuit die vertrek in die kliniek waar ons gesit het.”

Die ma sê sy het geen skuldgevoelens oor die voorval nie.

Die Facebook-inskrywing is meer as 2 000 keer gedeel, onder andere ook deur die sangeres Clare Johnston van die groep Mango Groove.