Die beste vriendin van Christopher Panayiotou se minnares het op 22 November – die dag waarop Jayde 31 jaar oud sou word – ’n roerende huldeblyk aan Jayde gegee.

Hierdie boodskap het gemengde gevoelens uitgelok van die talle mense wat die opspraakwekkende Panayiotou-moordsaak tans volg.

Die meeste van hulle – insluitend Jayde se familie – was stomgeslaan toe Clarishka Kapp ’n foto van ’n wit Kersboom versier met geel strikkies op die groep Justice For Jayde Inggs geplaas het. Sedert Jayde se moord in Maart verlede jaar het Jayde se familie en hul ondersteuners ter nagedagtenis geel strikke begin dra.

Clarishka het ’n paar weke gelede nog in die getuiebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig oor Christopher se buite-egtelike verhouding met haar beste vriendin, Chanelle Coutts.

Lees ook: Sappige stories oor Jayde Panayiotou se man en skelmpie kom uit in hof

By die foto het Clarishka geskryf: “Ter ere van Jayde het ek besluit om geel strikke op my Kersboom te sit. Die familie is in my gebede.”

Die meeste mense se reaksie op die foto was skok, maar ander het Clarishka gelukwens dat sy aangaan met haar lewe.

Debbie Godfrey, Jayde se vriendin en administrateur van die groep, het gesê sy wou eers die plasing van die blad verwyder het, maar Jayde se suster, Toni Inggs, het gesê hulle moet dit behou.

“Ek dink dit moes baie moed geverg het van Clarishka om dié foto te plaas vir almal om te sien,” het Debbie gesê.

Clarishka het vroeër getuig sy het geweet Chanelle het ’n verhouding met Christopher gehad nog voor hy met Jayde getroud was. Die hof het gehoor dat Christopher vir haar en Chanelle peperduur geskenke gekoop het en naweke saam weggeneem het.

Mense het by die plasing gevra of Clarishka nog kontak het met Chanelle. Hierop het sy geantwoord: Vir die rekord, geen kontak is gemaak tussen my en die minnares nie nadat (ek) ’n baie moeilike les geleer het. Dit sal voortaan so wees.

Christopher Panayiotou, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko word aangekla van ontvoering, roof en die moord op Jayde. Christopher word as die beweerde baasbrein van die misdade beskou.