Voel jy soms jy het self ’n vakansie nodig wanneer die kinders eindelik teruggaan skool toe? Die ma’s op Facebook vertel ons hulle het elkeen hul eie truuk om elke dag te oorleef: van multivitamiene en ysteraanvullings tot bekers koffie soggens. Maar wat is die beste manier om weer woema te kry?

Let op wat jy eet, sê Lila Bruk, ’n geregistreerde dieetkundige van Johannesburg. Al kan aanvullings help, is dit goed om reg te eet as jy ná ’n bedrywige tydjie jou immuunstelsel en energievlakke ’n hupstoot wil gee. “Konsentreer op lae-GI-koolhidrate soos saadbrood, bruinrys en veselryke graanvlokkies om jou bloedsuiker- en energievlakke stabiel te hou,” sê sy. “Probeer tussen vyf en sewe porsies vrugte en groente per dag inneem om aan jou liggaam se behoefte aan antioksidante te voldoen, en maak seker jy kry genoeg laevetproteïene in soos vis, hoender, eiers en bone.” Die proteïen saam met die lae-GI-koolhidrate help jou energie stabiel hou. Proteïene is ook die boustene van nuwe selle.

“Drink minstens 2 L water per dag, want soms kan net ’n bietjie dehidrasie jou laat moeg voel. Vermy kafeïen en suiker; dis ’n kortstondige stimulant, maar jou energie kan daarna skerp val,” waarsku Lila.

Oefening is veral belangrik, sê sy. “Oefen minstens drie keer per week. Dit help om jou op ’n natuurlike manier in ’n goeie bui te stem. Selfs al dink jy jy is heeltemal te moeg om te oefen, sal jy sien selfs net een oefensessie kan jou energieker help voel.”

Wenke vir besige ma’s

Hoe gemaak as jy te min tyd het om die regte kosse te berei en te oefen? Lila stel voor:

  1. Drink 2 L water; hou ’n bottel in jou sak.
  2. Oefen drie keer per week ’n halfuur lank. Dit beteken nie jy moet gim toe gaan nie; jy kan ook ’n halfuur vinnig in ’n winkelsentrum stap of saam met jou kinders bal speel.
  3. Sorg dat een van jou etes groente bevat. As jy nie die aanbevole vyf porsies per dag kan haal nie, sorg dat jy met jou hoofete meer as een soort eet. Vries porsies as jy weet jy gaan nie die res van die week tyd hê om dit te berei nie; so sorg jy met een kooksessie vir meer as een dag se gesonde kos.

aanvullings_copy pic

- Dalena Theron

Brone: ods.od.nih.gov ; Lila Bruk, geregistreerde dieetkundige, www.lilabruk.co.za

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.