Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany Nurse as ’n baba gesteel het, het op dieselfde dag in 1997 ’n ander babameisie uit dieselfde hospitaal probeer ontvoer, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Woensdag gehoor.

[caption id="attachment_118636" align="alignnone" width="600"]LINKS: Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany ontvoer het. REGS: Celeste Nurse, Zephany se geboortema. FOTO'S: Misha Jordaan, Noncendo Mathibela LINKS: Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy Zephany ontvoer het. REGS: Celeste Nurse, Zephany se geboortema. FOTO'S: Misha Jordaan, Noncendo Mathibela[/caption]

’n Getuie, Shireen Piet, het vandag getuig amper 19 jaar gelede het ’n vrou haar kind probeer steel. Sy het in die hof gesê die beskuldigde in die hof is daardie vrou.

Die vrou – wie se naam nie genoem kan word nie omdat dit daartoe kan lei dat die tiener geïdentifiseer word – staan tereg op aanklagte van ontvoering, bedrog en oortreding van die Kinderwet. Sy het skuld ontken.

Lees ook: Zephany Nurse se biologiese ma huil gebroke in hof

Shireen het gesê ’n vrou wat hoogswanger gelyk het, het verskeie kere by haar in die saal kom sit nadat sy op 28 April 1997 by die Groote Schuur-hospitaal die lewe geskenk het.

Op die dag van Zephany se ontvoering drie dae later, het Shireen gesê, het sy die vrou gevra om vir haar geld te leen om ’n oproep te gaan maak by ’n foonhokkie daar naby.

Die vrou het by die trap af gegaan na haar kamer en met ’n hand vol geld teruggekeer. Shireen het net genoeg vir die oproep geneem en na die foonhokkie gegaan. Sy het die vrou in haar kamer gelos, maar ’n oog op die saal gehou. Sy het die foon neergesit toe sy die vrou met haar baba buite die saal naby die hyser en trap sien. “Ek het gesê: ‘Gee my my baba. Gee my die kind.’”

Shireen het getuig die vrou het beweer die babameisie het gehuil. “Toe ek die baba vat, het ek na haar gekyk. Dit het nie gelyk of sy gehuil het nie.”

Shireen het gesê sy het haar baba in haar wieg teruggesit en op die bed gaan sit. Die vrou het by haar gebly. Later het hulle ’n lawaai uit die saal langsaan gehoor en gaan ondersoek instel. ’n Broeikas is ingestoot. “Ek het gekyk en almal kon my sien, maar sy het bang gelyk dat iemand haar sou sien,” het Shireen getuig. “Ek het haar daar gelos waar sy teen ’n muur in die saal staan.”

Shireen het gesê sy het die vrou daarna nooit weer gesien nie. “ ’n Ruk later het ek ’n man baie hard hoor huil. Ek het in die rigting gestap en ’n man gekry wat om die hoek by die hysers in ’n fetusposisie sit. Ek het gevra wat fout is. Hy het gesê sy kind is weg.”

Shireen het gesê sy het die man, Zephany se biologiese pa, Morne, vertel van die vrou wat my “kind probeer steel het. Ek het gewonder of dit daardie vrou kon wees wat sy kind gevat het.”

Nadat sy vir die polisie ’n beskrywing gegee het van die vrou wat haar besoek het, het Shireen gesê sy het nie gedink die vrou wou die baba seermaak nie. Toe sy gevra word waarom, het Shireen geantwoord die vrou het haar gevra watter formule(melk) die hospitaal die babas gee.

Die vrou het haar geen inligting oor haarself gegee nie.

Lees ook: Derick Hougaard: ‘Daar is geen skaamte om ’n gebreekte man te wees nie’

Shireen het aan die hof gesê toe Morne haar verlede jaar kontak en vra om na ’n foto van twee mense te kyk, het sy die vrou herken as die mens wat haar baba probeer vat het. “Sy was die vrou wat in die hospitaal by my gesit het. Sy het net ouer en vetter geword.”

Nadat sy die vrou verlede jaar tydens ’n uitkenningsparade uitgeken het, het sy gesê sy het die vorm van haar ken onthou omdat dit aan haar skoonsuster herinner het. “Daar was ook iets oor haar gesig wat my haar laat herken het.”

Die vrou is in Februarie 2015 in hegtenis geneem nadat die saak aan die lig gekom het toe die meisie se biologiese suster, wat vier jaar jonger is, vir haar ouers gesê het ’n matriekmeisie by haar skool trek baie op haar en haar ouers.

Toe die ouers uitvind die meisie verjaar op dieselfde dag as hul vermiste kind, het hulle dit by die polisie aangemeld. DNS-toeste het bevestig die tiener is inderdaad hul dogter.

Bron: News24

Ander stories op Huisgenoot.com:

Derick Hougaard: ‘Daar is geen skaamte om ’n gebreekte man te wees nie’

Nepalese passasiersvliegtuig stort op gevaarlike roete neer

Is Daniel Craig klaar met Bond?

Dapper kankerlyertjie skitter op New Yorkse modeplank

Het jy sonde met die bure? Hier’s raad

Afrikaanse sangeres sterk aan ná groot knieoperasie

Wat jy alles moet weet oor meningitis-uitbreking op Mosselbaai