Is jy realisties?

Kyk en krap jy gedurig aan daardie knoppies op jou arm, merke op jou gesig, selluliet op jou boude en hardnekkige vetrolletjies op jou maag? As jy dit doen, is jy die slagoffer van die onrealistiese sosiale en kulturele ideale oor vroue se liggaam, wat almal soms laat voel asof hulle nie goed genoeg is nie.

Maar as jou ophou om jou aan ander se definisies van skoonheid te meet, sal jy besef daar is baie om voor dankbaar te wees. Ontwikkel ’n gesonde liggaamsbeeld en ’n beter lewe deur hierdie topwenke te volg:

1.       Verander jou persepsie

Persepsie is die werklikheid. Verander jou denke. Hou op met al die negatiewe, selfkritiese opmerkings. Dit doen jou nie goed nie en neem jou na donker plekke waar niemand jou kan sien nie. Laat daar lig wees – die enigste manier is om jou gedagtegang te verander. Begin deur dit te beklemtoon waarvan jy wel hou. Fokus op die areas van jou liggaam wat jy aanvaar of van hou. Nie net gaan jou persepsie verander nie, jou liggaam gaan ook iets positiewers word. Hierdie nuwe selfvertroue gaan jou laat straal!

2.       Hou op aandag soek

Selfies, om gedurig jou profielfoto op sosiale media te verander en almal te vra of jy goed lyk in ’n romp wat jy in kleiner grootte gekoop het, gaan jou nie beter laat voel nie!

Om aandag te soek en dit dan nie te kry nie, is nie hoe ’n mens goed voel nie. Straal selfversekerdheid uit en die komplimente gaan op hul tyd kom; daar is niks so lekker soos ’n onverwagte pluimpie nie.

3.       Sê dit hardop

Moenie onder jou vriendinne kompetisie hou oor wie die vetste is nie. Maak jy jou aan die volgende skuldig? Jy: “Genade, ek lyk so vet in dié jeans!” Vriendin: “Is jy mal? Jy’s nie vet nie; het jy my dye gesien?”

Kom nou, daar is baie beter dinge om oor te praat wat jou eintlik goed oor jouself kan laat voel. Los die jammerpraatjies en moedig dit eerder aan dat julle hardop noem waarvan julle hou. Byvoorbeeld: “My agterstewe lyk wonderlik in dié jeans!” Of skep ’n mantra wat jy opsê elke keer dat jy in die spieël kyk of lyfroom aansmeer; iets soos: “Ek is ek; daarom is ek mooi, en my uiterlike skoonheid spruit uit my innerlike krag.”

  1. 4.       Gryp daardie notas

Dit kan dalk ’n rukkie neem om jou denkwyse te verander, dus kan jy ’n paar plaknotas vat en ’n paar woorde van motivering neerskryf. Pen ’n paar aanhalings oor selfliefde en liggaamsbeeld neer, asook die beste komplimente wat jy al ontvang het en dit van jou liggaam waarvan jy die meeste hou, en plak dit om jou spieël. Om jou deur die positiewe stellings te omring gaan die negatiewes in jou kop help verdryf.

  • Om te wens jy was iemand anders, is ’n vermorsing van die mens wat jy is. - Anoniem.
  • Iets pragtigs is nooit perfek nie. - Egiptiese spreekwoord.
  • Gesondheid is die grondvesting vir alle geluk. - Leigh Hunt, ’n digter.

5.      Behandel jouself soos ’n vriendin

Neem ’n tree terug en ontleed jou woorde wanneer jy met jouself praat. Sou jy dit aan jou beste vriendin sê? Sou jy so met hulle praat? Behandel jouself met respek en hou jouself tot ’n hoër standaard.

- Faiza Mallick

Bronne: womenshealthmag.com, kotex.com