Sy was die baas uit die hel. In die greep van ’n woedebui sou sy koffiebekers, dokumente of enigiets byderhand na haar ondergeskiktes gooi. Sy het hulle in kru taal gedreig, senior offisiere soos kinders in ’n hoekie laat staan en een van hulle eenkeer selfs in die gesig gespoeg.

Kapt. Holly Graf van die Amerikaanse vloot se bynaam was nie verniet Horrible Holly nie. Sy was almal se ergste nagmerrie, die verpersoonliking van die gevreesde boeliebaas. Verlede maand is sy toe uiteindelik ontslaan nadat bevind is sy het haar 400 ondergeskiktes op die missielskip USS Cowpens “verneder, in die openbaar verkleineer en verbaal aangeval”.

“Wanneer ek aan Holly Graf dink, selfs 12 jaar later, bewe ek,” sê ’n afgetrede vlootkommandeur oor haar.

Daardie boelie se dae is nou getel, maar ’n ander een sit nog knus in 10 Downing Street. Ook die Britse premier, Gordon Brown, is ’n boeliebaas, het onlangs aan die lig gekom.

Werknemers van Gordon se kantoor het Engeland se nasionale boeliehulplyn gebel om oor hom te kla, vertel die hoof van die diens, Christine Pratt.

“Ek het self ’n oproep beantwoord van personeel in die premier se kantoor, personeel wat glo hulle werk in ’n boeliekultuur en wat vertel dit veroorsaak vir hulle stres,’’ sê sy. Gordon het al dikwels sy personeel gevloek, op hulle geskree en hulle selfs aan die kraag gegryp, het ’n Britse koerant berig nadat die nuus van die oproep aan die hulplyn aan die lig gekom het.

Dit is tipiese voorbeelde dié van ’n toenemende verskynsel in die werkplek – dat base hul werknemers afknou, sê kenners met wie Huisgenoot gesels het.

Dié gedrag word deur die Workplace Bullying Institute in Amerika omskryf as “herhaalde mishandeling wat jou gesondheid benadeel, verbale misbruik, of optrede wat dreigend, vernederend of intimiderend is, of sabotasie wat met werk inmeng”.

Lees die volledige artikel, asook wenke, in die Huisgenoot van 15 April 2010.

Bespreek vir Skouspel!