Dokters probeer die Formule Een-kampioen van Donderdag af uit ’n koma kry waarin hy geplaas is ná ’n ski-ongeluk in Desember. Ná die stelselmatige verminder van sy stilmiddel kan dit ’n paar dae duur tot die laaste spore van die stilmiddel uit ’n pasiënt te stelsel verdwyn, volgens Gerard Audibert, ’n neuropraktisyn van die Universiteitshospitaal in Nancy, Frankryk.

“Daar is ’n grys sone (tussen wakker wees en slaap) wat dae duur, maar elke pasiënt verskil,” het hy aan AFP gesê. Maar volle bewussyn is nie verseker nie. “Die pasiënt kan wel in ’n koma bly,” het Gerard gesê.

Wanneer dit gebeur, is die ontwaking altyd “sigbaar”, volgens Bernard Vigue, ’n anestesioloog van Parys.

“Die pasiënt sal sy oë oopmaak of ’n bietjie beweeg.”

Die doel van ’n kunsmatige koma is om die brein te laat rus sodat die druk binne die skedel kan verminder wat deur kneusing in bloeding in die brein veroorsaak is. Sodra die druk verminder en gestabiliseer is, kan dokters so iemand uit die koma laat ontwaak, sê Gerard.

Die pasiënt se lewensbelangrike funksies en vermoë om self asem te haal, word ook in ag geneem; alle pasiënte wat in ’n kunsmatige koma geplaas word, het ’n asemhalingsmasjien nodig.

Dokters sal dan die pasiënt dophou vir enige reaksie op eksterne stimuli soos stemopdragte, terwyl hulle ook sy brein met skandeerders sal monitor. ’n Pasiënt se geliefdes speel ’n belangrike rol in hierdie stadium om hom uit die slaap te laat ontwaak, sê kenners, en ook later om die brein te stimuleer om weer gesond te word.

Bernard sê daar kan maande, of selfs jare, se terapie vir Michael voorlê. “Die herstelpad kan baie lank wees. In sommige gevalle toon pasiënte eers tussen ’n jaar en drie jaar later enige verbetering.”

Michael het sy kop teen ’n rots gestamp terwyl hy in die Franse Alpe geski het.