’N SES van ’n bal van Umar Gul het hom 250 laat verbysteek in die tweede toets teen Pakistan in Aboe Dhabi nou enkele dae gelede. Kort daarna was dit nog ’n bal van Umar wat vir AB de Villiers(26) ’n Suid-Afrikaanse rekord vir die meeste lopies in ’n kolfbeurt in ’n kriekettoets besorg het: 278 nie uit nie.

En was dit nie dat Suid-Afrika toe aan die einde van daardie beurt op 584 vir 9 verklaar het nie, dan was daardie rekordtelling straks nóg hoër. Maar AB was nie kwaad nie. Inteendeel, hy het net lof gehad vir sy kaptein, Graeme Smith, die man wie se rekord (in 2003 teen Engeland) hy toe pas verbeter het.

‘‘Ek het hom eintlik teetyd (toe hy op 263 was) gesmeek om te verklaar en aan te gaan, want ons het ’n paar paaltjies nodig gehad,’’ vertel AB. “Ek het gesê dis waarskynlik die beste vir die span as ons nou verklaar en hy het gesê: ?Daar is nie ’n kans dat ek verklaar nie; jy gaan kry daardie rekord, jy verdien dit.’ ’’

Vir AB het dit net weer gewys van watter stoffasie Graeme gemaak is – ’n rolmodel wat leierskap betref.

Dié senior spanlid van die Proteas se ellelange kolfbeurt was stadig maar seker – in 618 minute het hy 23 viere en ses sesse geslaan. Terwyl die paaltjies om hom gekantel het, het AB, van nature ’n aanvallende speler, eerder ’n ankerrol gespeel terwyl hy sy 10de toetshonderdtal aangeteken het.

Hy is bekend vir sy plofkrag, nie juis vir sy geduld nie. Maar die wedstryd het selfbeheersing geverg, en AB was toe koelkomkommer.

Terwyl hy die balle laat vlieg het op pad na ’n rekord, was AB se gedagtes ook by die Springbokke wat in daardie stadium op ’n sopnat Murrayfield in Skotland aan die verloorkant was. ‘‘Taai eerste helfte vir die Bokke!!! Komaan ouens. Sit voet in die hoek!’’ het hy Saterdagaand ge-tweet.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 Desember 2010