Sou jy ooit kon droom dat perdebye tot ’n jonger voorkoms kan bydra? Hoewel ’n geniepsige perdebysteek allesbehalwe aantreklike resultate lewer, word die teenoorgestelde na bewering deur hul neste bereik. En vroue huiwer glo nie om dit in te span nie.

Hulle het boonop ’n keuse — hulle kan óf fyngemaalde perdebyneste eet – óf hulle kan dit aanwend op dele waar die son selde skyn: hul vagina.


Die verkoopsmense beweer die “galneute” (oak galls) is nie net ’n doeltreffende “verjongingskuur” vir die geslagsdeel nie, maar dit sit ook ’n goeie reinigingsproses aan die gang.

Dr. Jen Gunter, ’n ginekoloog, het dié gier egter van ’n kant af getakel. Sy beskryf die gemaalde neute as ’n mengsel van boombas en perdeby-afskeiding wat eens ’n larwe gevoed het. Sy sê dit sal haar nie verbaas as daar nog gedeeltes van larwes in die balletjies gevind word nie.


Dié sogenaamde wonderkuur kan egter nie net die beskermende slymlagie van ’n vrou se vagina vernietig nie; dit kan ook goeie bakterieë die hasepad laat kies.

Sy vermaan: “As iets brand wanneer jy dit aan jou vagina aanwend is dit oor die algemeen sleg daarvoor.”

Galneute, ook genoem eike-appels, ontstaan wanneer ’n perdeby ’n eikeboom deurboor en larwes daarin stort. Die proses irriteer die boom wat dan tannien en gallussuur vrystel.

Steek daar enige waarheid in die genesingswaarde van perdebyneste? Daar word beweer dat Nidus Vespae reeds 2 000 jaar gelede deur die Chinese as medisyne ingespan is. Dit is hoofsaaklik afkomstig van drie perdebyspesies wat gewoonlik in die herfs en winter ingesamel word.

IMA Pharma-laboratoriums beweer die hedendaagse produk kan selfs teen kanker, tandvleissiektes en asma ingespan word. Daar word toegegee verdere navorsing moet nog met behulp van moderne tegnologie gedoen word voor die produk wyer aangewend kan word.

Bronne: imalab.net, nypost.com, elitedaily.com, drjengunter.wordpress.com

– Saamgestel deur Annelene Oberholzer