Wanneer Esmée Shergold eendag op haar groot dag haar aanstaande tegemoet stap, sal haar pa, helaas, nie aan haar sy wees.

Haar pa, Steve, is immers einde verlede jaar tragies op ’n bloedjong 33 aan kanker dood.

Tog sal hy in ’n sin wel sy oogappel kansel toe vergesel; in die vorm van ’n ring wat sy gebroke weduwee uit sy as laat skep het.

Gina (25) en Steve, van Dorset, Engeland, was net twee jaar getroud toe hy, ná ’n dapper drie jaar lange geveg in die hoop dat hulle saam hul eersteling sou sien grootgeword, die stryd verloor het.

[caption id="attachment_125207" align="aligncenter" width="600"]Die stralende paartjie op hul troudag. Foto: Facebook Die stralende paartjie op hul troudag. Foto: Facebook[/caption]

Weke ná sy dood het die mooi brunet, in ’n waas van hartseer, begin peins oor wat sy met sy as sou doen.

Maar toe sy een oggend, op sy verjaardag, wakker word en op Facebook van ’n “juwele-uit-as”-onderneming lees, het sy ’n gevoel van vrede en sekerheid ervaar oor presies wat haar te doen staan.

“Toe ons geweet het wat voorlê, het ek en Steve reeds besluit ons wou ook saam juwele uitsoek wat ek na ons kind kon oordra wanneer sy groot is.

“Maar namate hy agteruitgegaan het, het ons nie veel verder daaroor gepraat nie, omdat hy so sleg gevoel het.”

’n Ruk nadat sy van hom moes afskeid neem, sien sy egter toe ’n foto van ’n besonderse  blou ring wat die betrokke juwelier gemaak het.

[caption id="attachment_125208" align="aligncenter" width="600"]Foto: Google+ Foto: Google+[/caption]

“Só dink ek toe dit kon iets wees vir Esmée op haar troudag sodat, al kon Steve nie fisiek daar wees nie, ’n deel van hom tog wel teenwoordig sou wees.”

Die juwelier het die ring vroeër as verwag afgelewer, net voor Valentynsdag. Gina kon nie die trane keer toe sy die boksie oopmaak en die ring vir die eerste keer sien nie.

Die woorde `I love you, Superman,' is in die witgoud-band gegraveer. En sy as is in die sonderlinge blou steen geïnkorporeer.

Dié roerende video wat Gina op YouTube geplaas het, spreek van Steve se liefde vir sy jong gesin.

Superman was sy bynaam reeds sedert hy jare gelede ’n fees bygewoon met niks buiten ’n tent en Superman-kostuum nie. Hy sou ook altyd so aantrek na kostuumpartytjies toe.

“Maar die naam het selfs meer gepas geraak toe hy later sy siekte so dapper hanteer het,” het Gina hartseer vertel.

[caption id="attachment_125209" align="aligncenter" width="600"]Gelukkiger tye. Foto: Facebook Gelukkiger tye. Foto: Facebook[/caption]

Superman was altyd fiks en perdfris totdat hy skielik in Junie 2012, ná 'n ontstellende bloedverlies-episode tydens 'n besoek aan die badkamer, op net 30 met kolonkanker gediagnoseer is.

Steve het weke later chirurgie ondergaan en die dokters was optimisties daaroor dat hulle al die spore van die siekte kon verwyder. Hy het ook chemoterapie ondergaan.

[caption id="attachment_125212" align="aligncenter" width="600"]Steve en sy dogtertjie terwyl hy behandeling in die hospitaal ontvang. Foto: Google+ Steve en sy dogtertjie terwyl hy behandeling in die hospitaal ontvang. Foto: Google+[/caption]

Hy en Gina is in September 2013 getroud. Maar helaas, hy moes net dae nadat hulle gehoor het sy is swanger verneem die kanker is terug.

Dit het na sy linkerlong versprei, en verlede September het dokters vir Gina gesê hulle kon niks meer vir hom doen nie...

Van sy vriende het by sy begrafnis Superman-plakette gedra of Superman-T-hemde onder hul klere aangehad.

Gina, 'n kranige foto- en videograaf, wys nou vir Esmée soveel moontlik foto's en beeldmateriaal van Steve om haar haar pa te help onthou.

“Sy's nog te jonk om te begryp presies wat gebeur het, maar ek dink tog sy ervaar 'n verlies. Sy herken hom en sal sy foto's soen, of opkyk en glimlag wanneer sy sy stem in 'n videogreep hoor.

[caption id="attachment_125206" align="aligncenter" width="600"]Die drietal na Esmée se geboorte. Foto: Facebook Die drietal na Esmée se geboorte. Foto: Facebook[/caption]

“Ek wou uit die staanspoor hê sy moet presies kan sien hoe hy was, sy interaksie met haar, hoe lief hy vir haar was...”

Bronne: plus.google.com, justgiving.com, metro.co.uk, thesun.co.uk, dailymail.co.uk

Ook op Huisgenoot.com

‘Met die Vader se hulp is enigiets moontlik’: Moedige ouers van waterkoppie-baba klou vas aan hoop

‘Hulle gil, skree en baklei in hul slaap!’: Kenners gee raad as jou geliefdes aan vreesaanvalle snags ly

Nutella, Nike, Huawei: handelsname wat jy waarskynlik al die tyd verkeerd uitspreek

Sadag-hulplyn: Dis hoe ’n vriendelike, empatiese stem aan die ander kant van ’n telefoonlyn iemand se lewe kan red

Kry só daardie salarisverhoging wat jy al lank voor wens

Kenners gee raad: Hanteer só kinders se stres en angs