Deel hom eerder met ten minste vyf vroue as wat sy hom verloor aan een wat hom vir altyd wegvat van haar af, het Charmaine Victor* (52) in ’n stadium vas geglo oor haar man wat ’n reeksverneuker was. Maar toe vat Steven* (57) homself van haar weg deur hom ’n jaar gelede op te hang in hul motorhuis.

[caption id="attachment_167884" align="alignnone" width="600"]Foto: Megan Miller Foto: Megan Miller[/caption]

“Ek het met die drie trappies afgestap en gefokus op sy hemp en kortbroek en nie op sy gesig of voete nie,” onthou Charmaine daardie dag in Desember. Die sigaret tussen haar vingers bewe effe.

“Die gevoel van rustigheid wat ek op daardie oomblik eervaar het en omgedraai het, sal ek graag weer wou ervaar. Al die nagte van kommer oor waar hy is en by wie; wanneer hy weer gaan bel nadat hy pille of gif gedrink het, het weggeval,” onthou sy.

“Ek het na sy ma agter in die tuin gestap en aangekondig: ‘Ouma, Steven is dood.”

Ons sit in haar sitkamer op ’n dorp in die Overberge. Die derde huis waarin sy bly sedert sy dood. Asof sy vlug van herinneringe. Maar agter haar teen die muur, hang hulle troufoto’s van byna dertig jaar gelede. Sy stralend; hy haar rots van ’n man. Of so lyk dit.

“Ek het toe 45kg ligter geweeg. Kos is vir my ’n troos,” vertel sy.

“Mense sal seker dink ek is mal, maar as ek dit alles kon terug hê, sou ek alles net dieselfde doen: hom keer op keer vergewe as hy by ’n ander vrou was. Net sodat ek hom weer hier by my kon hê.” Sy staan op en gaan haal die Bybel. Sy wil dele van die verse lees wat haar deur al die jare by hom laat bly het.

1 Korintiërs 13:4-8: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik . . . Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie . . .”

[caption id="attachment_167890" align="alignnone" width="600"]Foto: Megan Miller Foto: Megan Miller[/caption]

Selfs al het sy oproepe gekry van vroue wat vertel hy is daar by haar en begin hyg . .

Hy het haar kort na hul troue in 1989 met sy eks-vrou verkul van wie hy geskei het toe hulle ontmoet het.

Hy was ’n rondreisende verkoopsman en het oral op sy roete ’n lêplek by vroue gekry wat nie sy eie was nie. Sy het agter hulle aangery oral in die Wes-Kaap. Mense het haar gewaarsku oor sy kullery. Sy het gehoor, sy het geweet, maar sy het elke keer maar vergewe.

Die punte van haar geverfde naels is effe weggekou. “Ek wens ek kon soos met ’n sakrekenaar CLEAR druk en alles is weg, maar dit bly op die skermpie in my kop.”

By die venster is daar ’n groot hok met ’n bedremmelende pappegaai. “Sy het net gepraat as hy met haar praat. Sy het my nooit agterna gepraat nie. Nadat hy weg is het sy haar vere begin uitpluk. Sy byt my banke stukkend. Sy mis hom ook.”

Charmaine staan stram op en gaan haal ’n foto van Steven wat sy wegbêre. Dis ’n paar weke voor sy dood. “Sien jy dit?” vra sy. “Sy oë. Hy was toe reeds dood van binne. Ek moes die tekens gesien het.”

Sy haal ’n houthouer met lapblomme van die tafel af. “Ons huwelik was soos ’n blompot. Elke keer val hy en breek in stukke. Dan plak ek maar dit weer aan mekaar. Dan val dit weer stuk-stuk af as hy met dinge besig was. Soos ek vergewe, plak ek terug, maar as ek daarna kyk sien ek die krake.”

[caption id="attachment_167891" align="alignnone" width="600"]Foto: Megan Miller Foto: Megan Miller[/caption]

Sy vat nog ’n trek van haar sigaret. Nog ’n trooskombersie. Sy druk dit dood en sak op haar knieë neer. “Ek het soveel keer so voor hom gestaan. Myself verneder: ‘Wat kan ek doen dat jy ophou? Ek sal enigiets doen. Wat het hulle wat ek nie het nie. Vertel my. Ek weet ek het ’n magie . . .” Sy staan stadig weer regop en die trane loop vrylik oor haar wange. Net vir ’n paar sekondes lank.

“Ek ruk myself gou weer reg. Destyds het ek gehuil omdat ek nie weet waar hy was nie. Deesdae huil ek oor ek hom mis. Ek wil net vir vroue dit van die berge af skree: Daar is niks met jou verkeerd nie. Hy is siek.”

Hulle het mekaar ontmoet toe hulle in dieselfde straat gewerk het. Sy het haar lipstiffie in die kar aangesit en hy het deur die ruit met haar kom flikvlooi.

“Hy was alles wat ek in ’n man gesoek het: sjarmant, rustig, liefdevol. Mense het opgekyk na hom.”

Steve was eerlik met haar dat hy nog getroud was, maar dat die egskeiding amper afgehandel is. “Hy was my eerste groot liefde. Hy het my oor die grootmensdinge geleer,” vertel sy.

Nadat hulle getroud is het sy vinnig swanger geraak met hul dogter en ’n paar jaar daarna met hul seun. Sy moes ’n histerektomie ondergaan weens sists op haar uterus. “Hy wou in elk geval nie nog kinders gehad het nie.”

Hul seun kyk nou nog op na sy pa. “Hy is my hero. Hy het my geleer hoe om ’n man te wees,” vertel hy gereeld aan sy ma. “Dit maak seer, want sy pa se besigheid het nie so goed gedoen as wat die kinders gedink het nie. As hy ’n paar rand gehad het, het hy vir hulle karre gekoop en gespoil.

Dit was ek wat ons finansieel aan die gang gehou het toe hulle klein was. Haar dogter bly steeds by haar en sy kan sien haar eie opvatting oor mans het dalk aan haar afgesmeer.

“Ek het my man aanbid. Ek het sy naels en toonnaels geknip, hom geskeer, vir hom ’n borrelbad ingetap. Mense het dit baie duidelik gestel aan my: Jy maak hom mooi vir ander vroue,” vertel Charmaine bitter.

“Die emosionele aftakeling was byna ondraaglik. Hy het nooit aan my geslaan nie, maar die vuishoue het binne-in my getref. Die wegsteek van sy selfoontjie. As ek dit toevallig opspoor agter die kussing van die bank is daar boodskappe soos: ‘Ek kan nie nou nie. Sy is in die huis’.

Daar was Google searched vir pornografie op sy rekenaar. En soektogte na prostitute. Ek het in Voortrekkerstaat in Bellville nagte lank buite in die motor voor ’n boordeel gesit en geleer hy kom kuier elke keer daar vir dieselfde prostituut.” Sy ken haar “verhoognaam” en haar regte naam.

Tussendeur het hy ten minste vyf keer ernstige pogings aangewend om sy eie lewe te neem. “Om my jammer te maak vir hom. Hy het geweet ek sal hom vergewe vir sy ontrou omdat ek so bly is hy lewe nog.” Eenkeer het hy insekdoder gedrink en hul dogter op hom afgekom en die nooddienste betyds gebel.

Sy het die swembadsuier-pype en tuinslange begin wegsteek; al die pille in die huis weggegooi om te keer dat hy sy eie lewe neem. Sy moes selfs in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word weens depressie. Hyself was jare lank behandel vir depressie, maar het opgehou om sy medikasie te neem.

“Drie jaar gelede het hy vir drie dae verdwyn. Hy het sy selfoon aan en af gesit, sodat ek nagte deur nie geweet het waar hy is nie. Is hy dood. Die Pink Ladies het selfs help soek. En toe hy eindelik vuil en beseer weer opdaag, was ek so verlig dat ek hom nie uitgevra het nie.

As sy praatjies gemaak het om hom te los, het hul kinders by haar gepleit: ‘Ma, hy gaan ’n boemelaar word.”

Tot op daardie dag in Desember toe sy terugkom huistoe en nie die motorhuis met ’n afstandbeheer oop kon maak nie, omdat hy al vermoedelik ure daaragter hang, het sy bly hoop en bid hy gaan sy streke los.

Twee jaar voor sy dood was hy elke aand by die huis en sy was nie meer so bekommerd nie. Nou weet sy hy was deur die dag by sy skelmpies.

“Ek wil nie bejammer word nie. Ek wil net seker maak vroue soek nie die skuld by hulself nie,” herhaal sy. “Ek het duisende sakke sout saam met hom opgeëet. Ek kon niks anders doen nie . . . Dalk net meer om seker te maak sy depressie word reg behandel.”