Toe Therese Vu en haar man, Duc Tran, verlede jaar hul geliefde honde ná 16 jaar net ’n maand uitmekaar verloor, sou hulle beswaarlik kon glo dat hulle ooit weer troeteldiere sou hê.

“Ek glo die tweede een het letterlik aan ’n gebroke hart gesterf,” het Therese aan The Dodo vertel. “Woorde kan nie beskryf hoe hartseer ek was om hulle albei te verloor nie, en ek het eerlikwaar nie geweet of ek ooit weer my hart en huis vir ’n ander hond sou kon oopmaak nie.”

Maar toe word hulle aan Kanga en Roo voorgestel, ’n broer en suster wat weens oor- en intelery albei met net twee bene gebore is.

[caption id="attachment_143110" align="alignnone" width="600"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Albei honde het oplaas by Angels Among Us, ’n dierereddingsgroep in die Amerikaanse staat Georgia, beland.

Ná verskeie maande in pleegsorg en nadat hulle verskeie aannemingsgeleenthede bygewoon het, het dinge nie goed gelyk vir die tweetjies met spesiale behoeftes nie. Toe sien Therese die plasing aanlyn en besef onmiddellik Kanga en Roo sal die volmaakte toevoeging tot haar huis wees.

[caption id="attachment_143113" align="alignnone" width="605"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

“Hulle het binne die eerste paar sekondes ná die ontmoeting ons hart gesteel, ons huis oorgeneem en ons wêreld heeltemal verander,” het Therese vertel. “Ons het hulle op 25 Junie 2013 aangeneem en kan ons nie die lewe sonder hulle voorstel nie.”

[caption id="attachment_143115" align="alignnone" width="603"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

Die spelerige tweetjies, nou vyf jaar oud, het hul eie manier van rondbeweeg uitgevind – danksy hul nuwe ouers het hulle selfs elkeen sy eie pasgemaakte stel wiele!

“In die huis is oral sagte oppervlakke waarop hulle kan beweeg,” het Therese vertel. “Ons wou wel ook ’n oplossing kry vir wanneer ons hulle buitentoe neem.”

Kanga en Roo besit ook pasgemaakte oortruie wat van dieselfde materiaal gemaak is as dié wat pasiënte met amputasies aantrek voor hulle ’n prostese aansit. Die truie is deur ’n vriend van die egpaar gemaak en hulle verhoed dat die honde se mae geïrriteer of besmet raak.

[caption id="attachment_143117" align="alignnone" width="600"]Foto: WENN Foto: WENN[/caption]

“Ons was so ingenome met die manier waarop dit die honde gehelp het dat ons begin het om die truie aan eienaars van tweebeenhonde oral in die wêreld aan te bied,” het Therese gesê. “Ons versend die truie gratis en het al van hulle na oral ter wêreld gestuur.”

Kanga en Roo het nou wel met ’n agterstand die wêreld ingekom, maar volgens hierdie foto’s geniet hulle die lewe ten volle en het hulle hul nuwe ouers geleer om weer van voor af lief te hê.

– WENN