Hier is die belangrike gebeure vandat die Duitse Formule Een-kampioen Michael Schumacher laat verlede jaar breinbeserings opgedoen het in ’n ski-ongeluk:

  • 29 Desember 2013: Michael stamp sy kop toe hy val in ’n rotsbesaaide deel van die ski-oord Meribel in die Franse Alpe.

  • Sy valhelm breek in twee. ’n Helikopter pik hom op.
  • Dokters opereer Michael in Grenoble en plaas hom in ’n koma. Sy liggaamstemperatuur word verlaag na tussen 34 en 35 °C weens “ernstige breintrauma”.
  • 31 Desember: Michael se bestuurder, Sabine Kehm, vertel die media die oud-renjaer het saam met vriende en sy seun Mick geski; nie teen ’n hoë spoed nie.
  • 1 Januarie 2014: Dis ’n dag voor Michael se 45ste verjaardag. Sabine vertel verslaggewers sy toestand is “stabiel”.
  • 3 Januarie: Die Franse koerant Le Dauphine Libere sê die polisie ondersoek ’n kamera wat geheg was aan Michael se valhelm.
  • 6 Januarie: Dokters sê Michael se toestand is kritiek maar stabiel. ’n Bron wat die familie goed ken, praat van ’n “effense verbetering”.
  • 8 Januarie: Ondersoekers bevind die ongeluk is nie veroorsaak deur foutiewe ski’s, onvoldoende kennisgewings of uitermate hoë spoed nie.
  • 30 Januarie: Dokters begin die medikasie verminder wat Michael in ’n koma hou, maar Sabine sê dit kan ’n tydjie duur voor hy sy bewussyn herwin.
  • 14 Februarie: Die Duitse koerant Bild berig Michael het longontsteking oorleef.

  • 17 Februarie: Die Franse owerheid kom tot die gevolgtrekking die ongeluk is nie veroorsaak deur onvoldoende veiligheidsmaatreëls nie en sluit ’n kriminele ondersoek oor die ongeluk.