Hy het nog ’n bietjie seer, maar dit gaan goed met ’n 11-jarige seun van Wolmaransstad wat verlede week in ’n rugbywedstryd beseer is.

[caption id="attachment_162839" align="alignnone" width="600"]Foto: Verskaf Foto: Verskaf[/caption]

In ’n Facebook-inskrywing deur die Child Medi Organisation het hulle gevra mense moet vir Willem Jansen van Vuuren bid nadat hy op Donderdag 2 Maart tydens ’n rugbywedstryd beseer is en nie sy bene kon voel nie.

“Willem kon omtrent ’n dag lank nie loop nie nadat hy sy lae rug seergemaak het, maar hy het herstel en dit gaan goed met hom,” het sy ma, Ezebe, gesê.

Willem se rugbyspan het teen ’n span van Stellaland van Vryburg gespeel, toe Willem drie minute voor rustyd ’n hou teen sy lae rug voel. Hy het inmekaargesak. Willem het geen gevoel in sy bene gehad nie en is na ’n hospitaal geneem.

Ezebe het twee dae ná die voorval in ’n inskrywing op haar Facebook-profiel geskryf gerugte doen die ronde dat haar kind verlam is of nooit weer rugby sal kan speel nie.

Sy het dit duidelik gemaak dis onsin, maar erken hulle was bekommerd toe hy die Donderdag nie sy bene kon voel nie. “Gister (Vrydag) het 1 been wel nog nie reageer nie, maar ná die steroïede wat hy gekry het, beweeg (sy) been vanoggend en het (hy) gevoel.”

Ezebe sê dokters vermoed swelling het senuwees vasgedruk. Die ure ná die wedstryd was vir haar angswekkend. “Ek het net gebid my kind moet kan loop,” het sy gesê. Hoewel hy Vrydag reeds terug was op die skoolbanke het hy soms nog ’n bietjie seer, veral wanneer hy lank sit.

Ezebe glo al die baie gebede het bygedra tot Willem se vinnige herstel.