Twee bruidegomme het ’n wonderlike manier gevind om die tradisionele wit trourok by hul groot dag in te sluit: Deri Rogers (28) en Ben Wood (25) van Wallis het elk van hul 10 strooimeisies gevra om een aan te trek.

“Met dié dat dit ’n gay troue is, gaan ons nie soos by ander groot troues ’n wonderlike rok hê om te onthul nie,” het Deri aan Wales Online gesê. “Ek meen, elke troue moet ’n trourok hê. Hoekom dan nie 10 nie?” Die strooimeisies kon enige rok kies waarvan hulle hou, solank dit wit is. Pleks van almal eenderse rokke te laat dra, het Deri en Ben elkeen haar eie rok laat kies.

“Hulle het almal groot persoonlikhede en daar was kwaai mededinging, rokrampe en uitvalle. Maar op die dag het hulle almal fantasties gelyk,” sê Deri. Omdat trourokke so duur is, het die strooimeisies hulle tot eBay gewend vir ’n bekostigbare maar stylvolle keuse. Die egpaar se hoofstrooimeisie, Sadie, het R10 300 op ’n moulose skepping met diamanté-versiering uitgegee om uit te staan. “Jy kan sê die meisies het die kollig gesteel, maar ons sou dit glad nie anders wou gehad het nie.” Bronne: elitedaily.com, aol.com