DIT was ’n spoorlyn na ’n droom, en een waarin bitter min mense geglo het. Maar ’n dekade gelede het hy nogtans stukkie vir stukkie daaraan begin bou, totdat die ysterstawe uiteindelik begin vorm aanneem en in plek geval het.

Nou, op Dinsdag 8 Junie om 05:24, sit Jack van der Merwe (61) op sy droomtrein wat voortsnel op sy droomspoor saam met die Gautrein se heel eerste groep betalende passasiers. Die reis is van Sandton tot by O.R. Tambo-lughawe in minder as 15 minute – in Afrika se eerste moltrein.

Ja, Jack is ’n ingenome man. Die skeptici het gesê sy droom is “doodgebore’’. Hy moes hoor hy is een van die mees gehate mense in Gauteng, want hoe sal hy snags slaap wanneer ander se grond onteien word en sy trein deur mense se huise jaag? Hy moes hoor die trein sou te duur wees, sou nooit betyds klaar wees nie.

Maar hier sit hy nou in die goue trein waar dit 19 dae voor die beplande voltooidatum byna geruisloos uit Sandton se stasie seil. En die oomblik word byna te groot, selfs vir ’n man wat nog altyd gróót gedink en gedroom het.

Dis ’n dag vir herinneringe, en Jack onthou van een van die eerste hoogtepunte van die projek – toe hy die eerste keer ’n trein gesien ry het in Derby, Engeland, van waar ons trein ingevoer word.

“Toe ek om die draai kom, het die trein op die toetsbaan gery,” het Jack agterna vertel. “Gelukkig was niemand by my nie. Elke keer as ’n mens by die trein staan, wil iemand weet: ‘Hoe voel jy?’ Daar was ek toe op my eie en het ek hom sien ry.” En hy kan voel sonder dat hy moet verduidelik hoe hy voel . . .

Dié siviele ingenieur is van 2004 af voltyds as projekleier by die Gautrein betrokke, en die sukses van die R25 biljoen-projek het nie bietjie te doen met sy onstuitbare passie vir alles wat hy doen nie.

“Hy’s ’n veeleisende man,’’ sê dr. Barbara Jensen, kommunikasie-en-reklame-hoof. “Hy weet wat hy wil hê en hy kry dit gewoonlik.’’ By die reklame-agentskap waar sy in 1997 was toe sy hom leer ken het, het sy hom as kliënt “geërf’’, want al die ander was te bang om saam met hom te werk. Toe bel hy haar 10 jaar gelede laat een aand en vra of sy deel wil wees van ’n “klein projek . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 17 Junie 2010

Lees ook die blog, Hoe ry die trein.

Bespreek vir Skouspel!

[gallery link="file"]