“Ek gaan jou doodmaak,” het die aanvaller glo aan Chantel Manthe (33), ’n werker by die sekswinkel in Roodepoort, gesê terwyl hy haar herhaaldelik met ’n stuk baksteen oor die kop slaan. Hy het toe haar selfoon gegryp en by die deur uitgehardloop.

“Ek het eers nie agtergekom my oor is af nie,” het Chantel, van Witpoortjie in Roodepoort, aan Huisgenoot.com gesê.

Haar verloofde, Leslie Taylor (33), wat ook beseer is toe hy die aanvaller agternasit, het later haar regteroor op die vloer van die winkel opgetel.

Chantel se kakebeen is ook gebreek. Leslie moes 12 steke in sy kop kry. Paramedici wat die paartjie ná die aanval in die winkel behandel het, het die oor na die Milpark Hospitaal in Johannesburg geneem. Daar is dit eers in ’n broeikas gehou. Ongelukkig was van die senuwees beskadig en kon net die onderste helfte van die oor weer aan haar kop geheg word, vertel Chantel. Volgens haar het sy alleen in die sekswinkel gewerk toe die man inkom en doelloos tussen die rakke ronddwaal. “Ek het ’n kol op my maag gekry; asof iets slegs gaan gebeur,” vertel sy.

Sy het haar verloofde gebel toe die man ná ’n uur steeds in die winkel rondhang sonder om iets te koop. Leslie was binne minute by die winkel, maar het uitgegaan om te rook nadat hy haar gegroet het. Die volgende oomblik het die aanvaller haar van agter bygedam, vertel sy.

Haar oor is waarskynlik afgeskeur deur dieselfde hou wat haar kakebeen gebreek het. Leslie het haar hoor gil en die aanvaller gekonfronteer toe hy by die winkel se agterdeur wou uithardloop.

In die proses is Leslie oor die kop geslaan met die stuk baksteen. Veiligheidswagte het toe ingegryp en die polisie ontbied.

Die man het eers beweer Leslie het hom sonder rede aangeval, maar die sekswinkel se geslote kringtelevisie-kamera het gewys hoe hy Chantel toetakel. ’n Klag van poging tot moord is by die Roodepoort-polisie ingedien.