Klein Riaan* is die toonbeeld van oulik. Op sewe maande kruip hy die wêreld vol in sy nuwe ma, Susan Kloppers*, se huis in Gauteng.

Niemand sou dink hierdie babaseuntjie se lewe sou só perfek wees as jy hoor sy biologiese ma, wat aan dwelms verslaaf is, wou hom aan ’n sangoma verkoop nie

“Ek het verlede jaar op 22 Julie ’n oproep van iemand gekry om te vra of ek nie die swanger vrou kan gaan help nie,” vertel Susan, ’n maatskaplike werker.

“Sy het langs ’n winkel op die sypaadjie gelê en vir my gesê sy weet nie eens of die kind nog lewe nie.” Susan het haar hand op die ma se maag gesit en gevoel hoe die baba begin skop.

"Sien jy hoe baie gee God vir jou en jou kind om," het sy vir die ma gesê. “Ek het op daardie oomblik gevoel daar is ’n band tussen my en hom.”

Susan het ’n ambulans gebel en vir die vrou haar nommer gegee.

Die volgende dag het sekuriteit by ’n plaaslike treinstasie vir Susan gebel en gesê sy moet kom, iemand probeer haar "kind" verkoop.

Sy het haar dadelik daarheen gehaas.

“Toe ek hom daai dag vashou, was hy so weerloos en koud. Ek het net besluit ek gaan alles in my vermoë doen om hom te beskerm.”

Sy het net daar besluit om hom aan te neem.

Susan, wat self geen kinders het nie, vertel die grootste uitdaging was die eerste aand wat klein Riaan by haar gebly het.

“Ek het hom daardie eerste aand met Google grootgemaak,” vertel sy laggend.

“My oë het vir omtrent ’n week stokstyf gestaan, maar ek dink my moederinstink het ingeskop en ek is nou ’n geoliede masjien.”

Riaan is ook die afgelope naweek gedoop.

“Ek het net besluit dit moet gedoen word; om vir God dankie te sê vir sy almagtige rol wat hy in sy lewe speel.”

* Skuilname