Brenda Sithole (17), ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Thutopele, het verlede week haar eie lewe geneem nadat daar na bewering vir haar gesê is sy sou van die skool weggejaag word omdat haar registrasie nie voltooi is nie.

In ’n brief wat sy vir haar familie op haar bed gelos het, skryf sy sy voel sy hoort nêrens nie, want daar is geen rekord van haar bestaan nie. 
Die brief is in die vorm van ’n hartjie geknip.

Dit lui: “Is jammer. Ek bedoel nie om iemand seer te maak nie. Is jammer. Ek het julle almal liefgehad en gerespekteer. Ek gee my beste aan almal, maar ek het gevoel ek hoort nie hier by julle nie. Ek is net ’n verleentheid vir julle, my familie. Ek het nie ’n toekoms gehad nie al het ek groot drome gehad wat ek wou sien waar word, maar dit sou nie gebeur het nie, want ek sou by die skool uitgeskop word omdat ek nie regte gehad het nie soos om ’n ID te hê om te wys waar ek hoort. Ek was net ’n gewone mens wat my lewe in die (genade) van God gelei het, maar tog het dit nie nut gehad nie. Ek is net nutteloos.”

Soektog na ma

Haar tante en voog, Terry Sithole, sê sy is gebroke ná die dood van haar “babameisie”.

Sy het drie seuns van haar eie, en het Brenda – saam met haar ouma aan moederskant – versorg nadat haar ma haar by familie gelos het om by ’n kêrel te gaan bly.

Hulle het eers later uitgevind die jong Brenda is nooit geregistreer nie. Terry se pogings om vir die kind wat sy as haar eie beskou het ’n geboortesertifikaat te verkry, was vrugteloos, want beamptes het verduidelik haar biologiese ma moes teenwoordig wees. 

“Toe sy oud genoeg was om ’n ID te kry, het ons haar ma probeer opspoor. Dit het ons ’n lang tyd geneem om uit te vind waar sy gebly het. Toe ons vroeër vanjaar die man opspoor saam met wie sy was, het hy vir ons gesê sy is dood, en vir ons haar ID en doodsertifikaat gegee,” sê Terry.

Planne om Brenda se geboorte te probeer registreer, is hierdie maand uitgestel ná die dood van Terry se pa.

“Toe die skool verlede Maandag open, het sy gehoor die skool wil die volgende dag ’n geboortesertifikaat hê of sy kan nie terugkom nie,” vertel Terry.

Marks Ramasike, hoofsekretaris van die Nasionale Vereniging van Ouers in Skoolbestuur, sê hy verstaan die skool het versoek dat leerlinge hul geboortesertifikaat of identiteitsdokument vir registrasiedoeleindes bring omdat ’n aantal van hulle nie formeel geregistreer was nie. 

Dit beteken dat begrotingstoekennings net gemaak word vir diegene wat amptelik by die skool geregistreer is, sê hy. 

Gebroke

Die provinsiale departement van onderwys het versoek dat diegene wat nog nie ten volle geregistreer is nie, hul geboortesertifikaat of ID teen 28 Julie bring. 

“Een van die onderwysers het vir die leerlinge gesê dat as hulle nie (hul dokumente bring nie) hulle nie moet terugkom skool toe nie. Hoe kan hulle die kinders wegjaag?” vra Ramasike. 

Terry sê sy het Brenda aangemoedig om die volgende dag terug te gaan skool toe en dat sy die nodige reëlings met die beamptes sou gaan tref om die situasie te verduidelik. 

“Sy is Dinsdag skool toe en toe sy huis toe kom, was sy gelukkig en het niks oor die geboortesertifikaat gesê nie. Ek het haar daardie aand by my ma se huis gesien, waar sy aangenaam was en gekook het. Ek het nie geweet sy het reeds besluit om (haar eie lewe te neem nie).”

Terry se ma het haar om 01:00 die volgende oggend gebel. Brenda is in die hospitaal opgeneem en “was nie oukei nie”.

“Toe ek daar kom, het ek uitgevind sy het reeds gesterf. Sy het rotgif ingeneem wat sy Dinsdag in die winkelsentrum gekoop het toe sy ná skool saam met haar vriende daar was.”

Terry sê haar niggie se dood het haar gebroke gelaat en sy soek antwoorde.

“Die skool ontken hulle het haar gedreig. Ek weet nie. As hulle het, was die benadering nie reg nie. As hulle dit op die regte manier behandel het, sou sy nie gevoel het sy het nodig om dit te doen nie,” hou sy vol. 

Doodsondersoek geopen

’n Doodsondersoek na Brenda se dood is geopen. Die saaknommer het die Sitholes in staat gestel om die relevante prosesse af te handel om haar lewe en dood te bevestig. 

Die tiener het nie doodsdekking gehad nie en die familie reël ’n behoorlike begrafnis vir die meisie wat eens daarvan gedroom het om haar as hidroloog te bekwaam. 

“Sy was slim. Sy het altyd haar skoolwerk gedoen en het graag geskryf, veral briewe. Sy was opgewonde om volgende jaar in matriek te wees,” sê Terry. 

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê sy departement is bewus van die “betreurenswaardige voorval”. 

“Daar is tans ’n ondersoek aan die gang. (Die departement) sal besluit oor die pad vorentoe wanneer daar ’n bevinding is,” sê hy. 

Terry sê die departement het die verantwoordelikheid om die saak te hanteer. 

“Daar is baie kinders in dieselfde situasie. As hulle uit die skool gejaag gaan word, gaan hulle (op die ou end) nyaope op straat rook.”

Bron: News24