Sy was 20 jaar oud en drie jaar in ’n verhouding toe sy uitvind sy is swanger, vertel Anel*.

[caption id="attachment_147796" align="alignnone" width="600"]Foto ter illustrasie. PEXELS Foto ter illustrasie. PEXELS[/caption]

“Die eerste gedagtes wat deur my kop gegaan het, was: Wat gaan my ma en pa sê? Wat gaan die kerkmense sê? Is ek reg om ’n ma te wees?

“Om my ouers te vertel, was aanvanklik nie ’n opsie nie. Ek het hulle wel later vertel omdat ek bang was my kêrel of iemand anders doen dit.

“Dit was baie erg en vernederend om te weet ek het hulle teleurgestel en seergemaak. Ek was ’n voorbeeldige dogter by die kerk wat op skool en op universiteit goed gevaar het -- en nou dit. My ma was baie teleurgesteld, maar het my gesteun. Sy het my pa vertel, maar hy het dit nooit met my bespreek nie.”

Anel se vrees was dat sy soos ander jong meisies die baba alleen sou moes grootmaak. Haar kêrel het ná ’n ruk ingestem dat sy die aborsie laat doen en het saam met haar na die kliniek gegaan.

Sy was destyds baie naïef en oningelig, sê Anel. “As ek geweet het wat vir my voorlê, sou ek dit nie vir ’n sekonde oorweeg nie.” Sy sê die feit dat sy in ’n konserwatiewe Christelike huis grootgeword het, die gedagte aan die skande wat sy oor die familie sou bring, die feit dat sy nog studeer het en die baba se pa werkloos was en dwelms gebruik het, was haar grootste motivering.

Lees ook: ‘Ek begin nou bang raak vir die geboorte,’ vertel hoogswanger 44-jarige leser

“Ek was by ’n dokter wat ’n pil genoem het wat ’n mens kry. Dit het so eenvoudig geklink en dan sou my ‘probleem’ weg wees. Ek was ook universiteitskampuskliniek toe en daar het die dokter my na ’n plek verwys wat aborsies uitvoer.”

Wanneer Anel daaraan terugdink is dit vir haar ’n frustrasie dat niemand haar bygestaan het en opsies gegee het of na iemand professioneel verwys het nie.

“Ek kan nie presies onthou hoekom ek ná die tyd weer na die kampuskliniek teruggegaan het nie, maar ek onthou hoe ek daar ingestap het en een van die susters gevra het hoe dit gaan. Ek kon nie ’n woord uitkry nie en het net gehuil.”

Anel sê sy het nie woorde om die hel en trauma te beskryf waardeur sy is nie. “Ek sien nog duidelik die wagkamer en die twee meisies wat dieselfde prosedure sou deurmaak. Ek sien my kêrel van destyds se gesig deur die glas en ek kan onthou dat ek geweet het dit wat ek wil doen verkeerd is, maar dit nogtans gedoen het.”

Elke meisie is na haar eie kamer sonder enige ventilasie geneem, onthou Anel. “Dit was so warm. ’n Pil word vir jou gegee en dan lê jy. Ure het verbygegaan. Ek kan nie presies onthou wat ek daarna gedoen het nie, maar ’n tydjie later het ek flou geval en in ’n gangetjie op die vloer wakker geword. Ek onthou hoe ek vir myself gesê het om op te staan.

“Daarna is ek na ’n ander kamer geneem. Dit was die ergste gevoel ooit. Net ’n paar minute en toe voel dit of ’n stuk van my weggeruk word.”

Dit was nie die einde vir Anel nie. “Ek moes twee weke later vir ’n opvolgondersoek gaan. Hulle het toe besef dat ek nie heeltemal skoon geskraap is nie en moes ’n tweede keer deur dieselfde prosedure gaan.”

Lees ook: ’n Ma vertel: Ek is spyt ek het my baba gehou

Die eerste twee jaar ná die aborsie was hel, vertel Anel. “Dit is ’n baie diep emosionele seer. Ek het in ’n stille depressie gegaan wat ek so hard probeer onderdruk het. Ek het my in die aande aan die slaap gehuil en ek kon nie na babas kyk nie. Babaklere in winkels het my benoud laat voel en die woord aborsie op ’n plakkaat of op televisie het my histeries gemaak.

“Dis regtig iets wat ek nie eens vir my vyand sal toewens nie. Ek en my kêrel se verhouding was aan en af. Hy het my bly herinner aan die ‘moord’ wat ek gepleeg het en daar was ook baie emosionele mishandeling van albei kante af.”

Anel is spyt oor wat sy gedoen het. “Ek weet wat ek gedoen het, was en is verkeerd, maar ek vind vertroosting met die wete dat die Here my vergewe het en dat ek eendag my kindjie in die hemel gaan sien. Ek het baiekeer gesit en wonder of ek eendag kinders sal hê. Sal die Here my straf deur nie kinders te hê nie?! Dis die vraag wat baie deur my kop gegaan het.”

Sy het haar man van die aborsie vertel voor hulle getroud is en hy het haar van die begin af ondersteun, sê Anel.

As sy dinge kan oor hê sal sy beslis die baba hou.

“Ek sal dikwels wonder hoe hy of sy sou lyk. Ek weet my ouers en familie sou die baba aanvaar het en lief gewees het vir hom of haar. Wat ook al die geval – skande of foute – dit is geen verskoning om ’n onskuldige ongebore baba te laat sterf nie,” sê Anel.