Die Oos-Rand was omtrent op hol nadat ’n sebra Dinsdag in Germiston gewaar is.

Die Germistonse Dierebeskermingsvereniging (DBV) het die oggend ’n oproep gekry oor dié gestreepte kalant wat op ’n besige pad naby die Randse Lughawe galop.

“Ons was ietwat skepties oor die oproep, maar het toe inderdaad ’n vreesbevange en lig beseerde sebra aangetref,” skryf hulle op hul Facebook-blad.

Die Nasionale Raad van die DBV en dr. Rob Campbell, ’n veearts, is betrek om die dier te vang.

Hulle het ’n perdevervoerkrat by die Johannesburgse dieretuin gekry om die sebra in te vervoer.

“Ons het die sebra omring en dr. Campbell het hom met ’n veergeweer onder verdowing geplaas. Toe die dier onder verdowing is, het ons hom op die bakkie en in die perdevervoerkrat gelaai.

“Hy is na ’n nabygeleë natuurreservaat vervoer om daar tyd in die natuur deur te bring.”