gary1 Daar is nie baie mense wat op 77 so lyk nie! Gary Player het pas die oudste sportster geword wat naak poseer het vir die ESPN-tydskrif se jaarlikse Body Issue. Oor die foto’s waarop die gholflegende in sy adamsgewaad met ’n gholfstok verskyn, het Gary (@garyplayer) gister getwiet: “Ek weet ek is g’n Olimpiese atleet nie, maar ek het hard gewerk om na myself te kyk. Hopelik kan @ESPNMag Body Issue ander aanspoor om dieselfde te doen.” Gary is bekend vir sy ongelooflike fiksheid en doen blykbaar meer as 1 200 opsitte per dag. In ’n onderhoud met ESPN het hy gesê: “Ek wil die wêreld wys hoe fiks jy op dié ouderdom kan wees en dat jy nie net hoef te aanvaar dat jy oud is nie.” Maar die foto’s is net ’n deel van sy plan. “My groot droom is om mense te help gesond word. Vetsug is, wat my betref, die grootste probleem wat ons in die gesig staar. Dis makliker om ’n kameel deur die oog van ’n naald te kry as om die deursnee-man sover te kry om hom aan dieet en oefening te steur.”

Die eerste Body Issue het in 2009 verskyn, met die tennisster Serena Williams as een van die voorbladsterre.

- Suzaan Hauman

Bron: espn.go.com