Hy is net so deel van die gewilde realiteitsprogram as die verskriklike weergawes van Killing Me Softly wat ons elke seisoen moet hoor.

Maar na elf seisoene is die berugte beoordelaar van M-Net se Idols SA, Gareth Cliff, klaar daarmee.

"Dit is tyd! Na elf seisoene van Idols is dit tyd vir my om totsiens te sê," het die Cliff Central-omroeper Maandag op Facebook gesê.

"Watter beter manier is daar om hierdie hoofstuk af te sluit as met 'n reis na New York en om die American Idols-beoordelaar Harry Connick Jr te ontmoet?"

"Wat is volgende? Hou hierdie spasie dop ...... #Cliffhanger."

Die voormalige 5FM-omroeper het 'n hele paar hoogte- en laagtepunte beleef in sy elf jaar as Idols-beoordelaar.

Net verlede jaar het M-Net vir Gareth afgedank ná hy op sosiale media sy stem dik gemaak het oor die Penny Sparrow-rasherrie. Maar Gareth het M-Net se beslissing betwis en die saak het al die pad in die Johannesburgse hooggeregshof gaan draai.

In Januarie vanjaar het die hof in sy guns beslis en M-Net beveel om hom met onmiddellike effek weer aan te stel.

Advokaat Wim Trengove het namens die uitsaaier aangevoer M-Net was binne hul regte om Gareth af te dank omdat sy kommentaar hom soos 'n "poster boy" vir rassisme laat lyk het.

Die uitsaaier het ook aangevoer dis onregverdig om iemand in hul diens te hou wat hul openbare beeld skade berokken.

Op sy beurt het Gareth se regspan, onder leiding van Dali Mpofu, gemeen daar is geen manier om te bepaal of die publiek die omroeper werklik as 'n rassis beskou nie.