Meher Malik, ’n buikdanser van Nieu-Delhi in Indië, het haar Facebook-volgelinge vermaak met haar danspassies op die maat van die gewilde TV-reeks Game of Thrones se temalied.

Al is die sesde seisoen van dié gewilde reeks pas klaar en moet kykers geduldig wag tot die volgende seisoen, loop Game of Thrones-koors weer hoog nadat dit gisteraand bekendgemaak is die reeks het 23 Emmy-benoemings losgeslaan.

Kenners voorspel die reeks gaan skoonskip maak tydens dié gesogte jaarlikse prysaand, wat op 18 September plaasvind. Die reeks het vanjaar meer benoemings as enige ander TV-reeks gekry; net een minder as die 24 benoemings wat dit verlede jaar losgeslaan het.

Dit ding onder meer mee om die pryse vir beste dramareeks en Peter Dinklage, beter bekend as Tyrion Lannister, sowel as Kit Harington, wat Jon Snow speel, is albei as beste manlike byspeler benoem.

Emilia Clarke, wat Daenerys Targaryen speel, sowel as Lena Heady, wat die rol van Cersei Lannister vertolk, en Maisie Williams, oftewel Arya Stark, is al drie benoem as beste vroulike byspeler in ’n dramareeks.

Bronne: CNN, Facebook, Rolling Stone