Sy was besig om badwater in te tap toe sy gly. In haar geskokte toestand wou sy haar dogter bel om te kom help, maar sy het die verkeerde nommer geskakel.

Toe die telefoon aan die ander kant opgetel word, was dit nie haar dogter nie, maar die ontvangsdame van ’n motorhandelaar.

Die ontvangsdame het vir Dang Vuong, die verkoopsbestuurder van die handelaar, gevra wat sy met die oproep moet doen.

Dang het die enigste ding gedoen wat hy geglo het reg is: haar adres deur middel van Google opgespoor, in sy motor gespring en die sowat 3 km gery terwyl die ontvangsdame die gesprek aan die gang gehou het. Nog ’n geluk by die ongeluk was dat die voordeur nie gesluit was nie. Dang het haar in die leefvertrek aangetref. “Sy was meer in ’n toestand van skok as enigiets anders, daar was bloed op haar gesig en die bad het oorgeloop.” Die ridderlike Dang het die bejaarde vrou in sy arms opgeraap, op die rusbank neergelê en met ’n kombers toegemaak. O ja, en natuurlik ook ’n koppie tee vir haar gemaak want, soos Dang sê: “Tee maak alles soveel beter!”

Dang het Sara deur middel van haar ouma se selfoon opgespoor en binne enkele minute het daar nog hulp opgedaag.

Gelukkig is Sara se ouma nie ernstig beseer nie. Sy het ’n boodskap van dank op haar Facebook-blad gedeel en dit het die kuberruim behoorlik laat vlam vat.

Luidens berigte glo Sara haar ouma sou waarskynlik ure lank moes wag voor hulp sou opdaag – was dit nie vir Dang se wonderlike gebaar nie.

Wat het Dang self hieroor te sê? “Hopelik herstel dit weer ’n bietjie geloof in die mensdom daarbuite – nie om die verantwoordelikheid bloot op iemand anders se skouers te plaas nie.”

David Guy, hoof van ondernemings in Stratstone Tyneside, het Dang as ’n gawe ou bestempel. “Hy doen altyd goed vir ander mense. Wat hy nou gedoen het, verbaas my nie in die minste nie.”

Bronne: cardealermagazine.co.uk, metro.co.uk, chroniclelive.co.uk