Die hertog en hertogin van Cambridge wil blykbaar weer in Anglesey in Wallis gaan woon.

Die koninklike egpaar het vroeër vanjaar uit hul kothuis getrek ná die geboorte van hul drie maande oue seun, prins George, maar die twee wil glo graag ’n gesinshuis in Wallis inrig.

Die toekomstige koning en koningin het pas hul opgeknapte woonstel by Kensington-paleis in Londen betrek. Die restourasie het die Britse belastingbetalers sowat R18 miljoen uit die sak gejaag.

Maar die twee oorweeg dit glo nou om na die afgeleë plaashuis terug te trek wat hulle drie jaar lank teen R12 000 per maand gehuur het toe William as ’n soek-en-redding-vlieënier gewerk het.

Die koninklike biograaf Michael Thornton, wat in Anglesey woon en dikwels saam met Catherine by die plaaslike Waitrose inkopies gedoen het, is soos volg in MailOnline aangehaal: “Daar loop gerugte dat die Cambridges ’n huis op die eiland wil aanskaf. Ek het gehoor hulle stel daarin belang om die plaashuis te koop.”

Begin vandeesweek is berig William en Kate wil hul gesin baie binnekort uitbrei. ’n Bron het voorheen gesê: “Kate raak broeis en wil graag vir George ’n sussie of boetie kry. Hulle sal so gou moontlik nog ’n baba kry en sou graag ’n groot gesin wou hê, meer as die gewone troonopvolger plus een.”