Die sjampanje is op ys – nogal 300 bottels verouderde Dom Pérignon – die koninklikes het twee dae in hul dagboeke in Junie oopgehou en daar is groot opwinding onder diegene wat die bloubloed-familie met valkoë dophou.

Dit kan net een ding beteken, sê dié wat weet: Hier’s ’n troue op pad.

Prins William en Kate Middleton gaan hul verlowing in die Britse somer aankondig, sê Tina Brown, ’n voormalige redakteur van Vanity Fair, wat eens ’n hegte vriendin van wyle prinses Diana was en steeds weet hoe dit in die binnekringe in Windsor-kasteel werk.

Die paartjie kan selfs al in November voor die kansel staan, sê sy, want koningin Elizabeth,

wat op 21 April vanjaar haar 84ste verjaardag gevier het, kan nie wag dat haar kleinseun trou sodat ’n nuwe koning en koningin die leisels kan oorneem nie.

Dis alles natuurlik baie opwindend– maar het ons dit nie alles al tevore gehoor nie? Die Britte was in 2006 so oortuig Wills en die pragtige donkerkop gaan afhaak dat die kettingwinkel Woolworths (die Britse groep wat bankrot gespeel het) spesiaal breekgoed laat maak het met die paartjie se gesig daarop ter viering van die groot geleentheid. Maar toe kom daar geen aankondiging nie en die borde en bekers vergader toe net stof.

Intussen rep die prins en sy meisie van die afgelope ses jaar nie ’n woord nie.

‘‘Wag en kyk wat gebeur,’’ was Wills se reaksie toe ’n nuuskierige aanhanger hom vroëer vanjaar oor die groot dag uitvra. Tog is daar tekens dat hy dalkwel reg is om te trou – hy het dan vroëer laat val hy wil na aan 30 wees wanneer hy afhaak, en hy word dan juis in Junie 28.

Maar tot dusver swyg hulle soos die graf...

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 22 April 2010.