Prins William gaan glo by wees met die geboorte van sy eersteling.

Die koninklike egpaar sal hul eersteling in Julie in die wêreld verwelkom en volgens bespiegeling gaan die hertog van Cambridge die tradisie verbreek en langs hertogin Catherine se bed wees wanneer sy kraam.

Robert Jobsen, korrespondent oor die koninklikes, het aan die tydskrif Now gesê: “Ek is seker hy sal daar wees. Dit het onlangs algemener in die koninklike familie geword; Peter Phillips was byvoorbeeld by met die geboorte van sy dogters, Savannah en Isla.”

Die hertogin van Cambridge, wat voor haar troue as Kate Middleton bekendgestaan het, wou die baba glo eers in die Royal Berkshire NHS-hospitaal in Reading hê waar sy en haar suster, Pippa Middleton, gebore is, maar dit lyk of sy waarskynlik die tradisie sal volg en die baba in Londen sal kry.

Robert verduidelik: “Die plek is nog nie amptelik bekendgemaak nie, maar dit lyk of sy die tradisie sal volg en in ’n privaat vleuel van die St. Mary-hospitaal in Paddington, Londen, die lewe sal skenk waar William en prins Harry ook gebore is.”