Prins Harry se nuwe romanse met die aktrise Meghan Markle gaan getoets word wanneer hy later vandeesmaand een van die wêreld se mooiste vroue ontmoet tydens ’n besoek aan Barbados.

Die Britse prins gaan by die sangeres Rihanna aansluit om die land se 50ste jaar van onafhanklikheid te herdenk by ’n geleentheid waar sy die nasionale volkslied gaan sing.

Harry sal tydens sy twee week lange toer van die Karibbiese Eilande ook Antigua, Barbuda en Guyana besoek.

Sy nuwe meisie gaan nie by hom aansluit op die toer nie. Dit is aangekondig enkele dae nadat die prins ’n verklaring uitgereik het waarin hy die media vra om op te hou om die ster van die regsdrama Suits lastig te val.

Hy’t haar glo in Mei in Toronto, Kanada ontmoet toe hy daar was om voorbrand vir die 2017 Invictus-spele te maak.

Die polisie is glo buite Meghan se huis ontplooi om haar veilig te hou.

Harry se kommunikasiebeampte het Dinsdag in ’n ongewone stap namens hom die media gevra om haar met rus te laat en geskryf: “Meghan Markle is onderwerp aan mishandeling en teistering. Sommige hiervan was in die openbaar – beswadder op die voorblad van ’n nasionale koerant; die rassistiese ondertone in kommentaarstukke en die blatante seksisme en rassisme van boelies op sosiale media en kommentaar op webartikels.

"Sommige hiervan weet die publiek nie eens van nie – die nagtelike regstryd om lasterlike stories uit koerante te hou; haar ma wat verby fotograwe moet sukkel om by haar voordeur uit te kom; die pogings van verslaggewers en fotograwe om onwettige toegang te verkry tot haar huis en die oproepe na die polisie wat daarop gevolg het, die omkoopgeld wat haar ekskêrel aangebied is en die lastig val van byna elke vriend, medewerker en geliefde in haar lewe.”

Die woordvoerder het ook gesê Harry is “diep teleurgesteld” dat hy nie sy meisie kon beskerm nie.

“Dis nie reg dat me. Markle ’n paar maande in ’n verhouding met hom aan so ’n storm blootgestel word nie,” lui die verklaring verder. “Hy’t geweet mense gaan sê ‘dis die prys wat sy moet betaal’ en ‘dis deel van die spel’. Hy stem nie saam nie. Hierdie is nie ’n speletjie nie – dis haar en sy lewe.”

© Cover Media