Dit kom nadat prof. Merryll Vorster vandag getuig het dat Oscar ’n angsafwyking het.

Volgens Gerrie moet ’n persoon wat ’n afwyking het en wat van moord aangekla word ingevolge artikel 78 van die Strafproseswet vir 30 dae psigiatriese waarneming gestuur word.

Gerrie wou dié aansoek al vandag bring voor hy sy kruisondervraging voltooi, maar Oscar se prokureur adv. Barry Roux het gesê hy wil Merryll eers herondervra, want hy kan uitpluis wat sy in haar getuienis bedoel het.

Barry het verwoed daarteen baklei dat Gerrie die aansoek bring sonder dat hy Merryll weer ondervra.

Regt. Thokozile Masipa het gesê Gerrie moet met sy kruisondervraging voltooi voor hy die aansoek bring.

Buiten dat Merryll gesê het Oscar het ’n angsafwyking, het sy toegegee dat ’n persoon met dié afwyking ’n gevaar vir die samelewing is as hulle ’n wapen in die hand het.

Sy het verder getuig dat Oscar tussen reg en verkeerd kan onderskei, maar dat daar faktore is wat ’n invloed kon hê op sy optrede toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, doodskiet.

Die saak gaan môreoggend voort.

- Hilda Fourie