As die regering sy sin kry sal jongmense jonger as 21 jaar binnekort nie meer alkohol mag gebruik nie.

Suid-Afrika het die hoogste persentasie van alkoholinname (10-12 persent) in vergelyking met ’n wêreldgemiddeld van 6 persent, sê Rob Davies, minister van handel en nywerheid, luidens ’n verklaring. “Ons het die hoogste vorm van fetale alkoholsindroom ter wêreld.”

Volgens hom kan talle beserings in Suid-Afrika ook met alkoholinname verbind word en bestee die regering sowat R3,7 miljard aan probleme wat uit alkoholmisbruik spruit.

Die voorstelle in die wysigingswetsontwerp is gedoen deur na ander lande te kyk waar dit bewys is dat negatiewe voorvalle wat met alkohol verband hou, minder is waar die ouderdom van alkoholverbruik verhoog is.

Hoewel daar altyd mense sal wees wat nie gehoor gee aan wetgewing nie, sal dié wet ’n belangrike boodskap aan die publiek oordra, sê Savera Kalideen, senior bestuurder by Soul City, wat onder meer die Phuza Wize-veldtog teen alkoholmisbruik bekendgestel het.

“Dit ontlok debat waardeur mense opgevoed kan word oor die redes waarom alkoholgebruik op ’n jong ouderdom beperk moet word. Mense moet leer wat die gesondheidsimpak van drank op jongmense is.”

Sy verduidelik ’n jongmens se brein is eers op 24 en half jaar heeltemal ontwikkel. “Daar is ’n verband tussen alkoholgebruik en die grootte van die brein en dit kan tot 18 dele van die brein beïnvloed,” sê sy.

“Die breinselle in die dele raak dunner en swakker en kan tot swak kommunikasie tussen die breinselle lei. Die dele wat geraak word, is baie belangrik vir geheue en die vermoë om te kan leer. Dit het ’n langdurige effek en kan nie omgekeer word nie.”

Savera sê die wetgewing sal mense waarsku drank op ’n jong ouderdom is gevaarlik, selfs al dra hulle nie kennis oor die besonderhede daarvan nie.

“Kyk na die tabak- en veiligheidsgordelwetgewing. Baie mense gee nie daaraan gehoor nie, maar miljoene doen dit tog, want hulle verstaan dit is tot hul eie voordeel.

“Dit is dalk in die mode om nie met owerhede saam te stem nie, maar wanneer jy die voordele sien waarom wetgewing verander, sal jy dit eindelik aanvaar.”

Die wysigingswetsontwerp oor alkoholiese drank is verlede week deur die kabinet aanvaar en daarvolgens sal onverantwoordelike drankverspreiders en -vervaardiger kortgevat word. Dit sal ook verhoed dat advertensieborde wat alkohol adverteer naby vervoergeriewe soos treinstasies opgerig word.