Die Rolling Stones-voorsanger, wat Saterdagaand 29 Junie voor ’n rekordgehoor by die Glastonbury-fees opgetree het, voel glo onder druk om met sy meisie, L’Wren Scott, af te haak. Die twee gaan al 12 jaar lank uit.

’n Bron het aan die koerant The Sun gesê: “Sy karring gedurig aan hom. Hy het eers daarvan gehou dat sy nie ’n strop om sy nek probeer kry het nie. Sy is ’n stilis en ontwerper en het ’n juwele- en parfuumreeks. Mick was dol oor die feit dat sy geheel en al onafhanklik is.”

Maar dit lyk of Mick, wat voorheen met die voormalige modelle Bianca De Macia en Jerry Hall getroud was, dit dalk ernstig oorweeg om L’Wren (46) sy volgende vrou te maak omdat hy voel hy kan die Amerikaanse ster onvoorwaardelik vertrou.

Die bron het bygevoeg: “Hy hou daarvan om iemand om hom te hê wat hy kan vertrou.”

Met L’Wren aan sy sy het die 69-jarige rockster met ’n privaat helikopter na Worthy Farm in Somerset gevlieg vir die Stones se heel eerste optrede in Glastonbury se bestaan van 43 jaar. Sowat 200 000 aanhangers het die vertoning bygewoon.

Voor sy vertoning het die twee in ’n weelderige tent van R45 000 gebly, kompleet met ’n koninggrootte bed, spieëls en kandelare.

Mick is ook bederf met sy eie BBP-seksie genaamd Shangri La en ’n luukse toilet en stortblok.