Slegs ’n paar leerders was betrokke by die uitlek daarvan en hulle is geïdentifiseer en daar sal tugstappe teen hulle wees, het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gesê.

“Dus is dit nie nodig dat die vraestel oorgeskryf hoef te word nie.”

Die uitlek van die wiskunde 2-vraestel is by die Hoërskool Giyani in die Mopani-distrik ontdek. Minstens 100 leerders by tien verskillende skole oor Limpopo het glo toegang gehad tot die vraestel voor hulle dit geskryf het.

’n Ondersoek sal nou gedoen word om vas te stel of die uitlek van die vraestel die geloofwaardigheid van die eksamen benadeel het.

“Daar sal ’n statistiese analise gedoen word van die vraestelle wat leerlinge by die skole bereik het om vas te stel of daar enige ongeruimdhede was wat verdere ondersoek vereis.”

Die Valke het Tinyiko Khosa, eienaar van die New Era en Mudzahisi privaatkolleges in Malamulele, in hegtenis geneem. Hy het na bewering die vraestel onder sy leeders by ’n privaat lodge versprei.

Elijah het gesê die departement sal dié kolleges ondersoek. Tinyiko (52) is verlede week borgtog geweier en bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 19 Desember.

Die Valke se provinsiale woordervoerder, Matimba Maluleke, het gesê hulle hoop om nog mense in verband met die voorval in hegtenis te neem.

Die matriekeksamen eindig Dinsdag en die merk van sowat 11 miljoen vraestelle begin Donderdag by 140 merksentrums regoor die land.

Bron: News24