Suid-Afrikaanse gehore kry vandeesweek kans om te sien waaroor die ophef gaan wanneer The Revenant (16G) hier begin draai. Dié rou en wrede oorlewingsdrama behoort vir Leonardo DiCaprio (Titanic) eindelik sy Oscar-beeldjie in die sak te bring ná vyf vorige benoemings.

Ná die Oscar-sukses van Birdman (2014) het die regisseur Alejandro González Iñárritu nie op sy louere gerus nie en verskuif weer die perke van rolprentkuns met sy verfilmingstegniek.

Die fliek is gegrond op die lewe van die spoorsnyer Hugh Glass (DiCaprio). In 1823 is Hugh deel van ’n ekspedisie in die onherbergsame Amerikaanse Midde-Weste om met pels handel te dryf. Toe ’n beer hom ernstig verwond, word hy agtergelaat en moet hy veg om oorlewing teen die koue en Indiane. Die rolverdeling sluit in Tom Hardy (wat ook vir ’n Oscar benoem is), Will Poulter (We’re the Millers) en Domhnall Gleeson (About Time).

Die kritici is gaande oor die fliek. Op die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, kry dit 82 persent. Hulle bevind: “The Revenant is strak en rou en bevat pragtige landskapstonele. Dit gebruik DiCaprio se toegewyde vertolking as brandstof vir ’n aangrypende drama wat strawwe uitdagings en ryk belonings aan kykers bied.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Nick De Semlyen gee dit vyf sterre. “DiCaprio se spel is hipnoties en hy werp homself met mening in by elke beproewing asof hy wil vergoed vir sy losbandigheid in The Wolf of Wall Street (2013). Sy rou vertolking verhef wat dalk net nog ’n man-teen-die-natuur-drama kon gewees het tot ’n kragtige ode aan uithouvermoë. Maar dié fliek behoort aan González Iñárritu en hy verhef ’n geykte stukkie mitologie oor die lewe in die wildernis tot ’n moordende, voortreflike, mistieke swerftog van oorlewing.”

Die ander twee flieks wat hierdie week begin wys het nie so goed by die resensente gevaar nie.

Ná die sukses van The Other Guys (2010) span Will Ferrell (Anchorman: The Legend of Ron Burgundy) en Mark Wahlberg (The Fighter) weer kragte saam vir Daddy’s Home (7-9OT). Will speel ’n bleeksiel-stiefpa wat hard probeer dat sy vrou (Linda Cardellini van Avengers: Age of Ultron) se teësinnige kinders hom sal liefhê, maar sy planne word in die wiele gery toe hul spiertier biologiese pa (Mark) opdaag en die twee begin meeding oor wie die beste pa is.

Die meeste kritici dink die fliek is bra flou. Op die webtuiste Metacritic, wat nes Rotten Tomatoes werk, kry dit 42 uit 100. Laasgenoemde gee dit 30 persent en die konsensus is: “Dis al bewys dat Will en Mark saam skreeusnaaks kan wees, maar Daddy’s Home ly aan ’n gebrek aan werklik snaakse idees en kort genoeg moed en verbeelding om die satiriese moontlikhede van die gegewe ten volle te verken.”

Mark Kermode van die Observer gee dit twee sterre en beskryf dit as “voorspelbaar en dikwels treurig resepmatig. Die vervaardigers rek wat eintlik ’n enkele grappie is uit tot ’n vollengtefliek.”

Die tekenprent Norm of the North (O) handel oor die ysbeer (Rob Schneider van Deuce Bigalow: European Gigolo se stem) van die titel, die wanaangepaste erfgenaam van die Arktiese streek wat nie weet hoe om te jag nie, maar die unieke vermoë het om met mense te praat. Toe die gierige mnr. Green (Ken Jeong van The Hangover) opdaag met planne om luukse huise in die Noordpool te bou, besef Norm hy sal iets moet doen en tesame met sy drie lemming-maatjies sit hy af New York toe om die ontwikkeling te stuit.

Kritici dink dié rolprent is so goor, dit kry ’n skokkende nul persent op Rotten Tomatoes. Hulle bevind: “Norm of the North doen baanbrekerswerk op die gebied van dansende-ysbeer-animasie, maar is in elke ander opsig uitgeput en agterlik. Net vir ouers wat in ’n verknorsing is en hul kinders moet besig hou.”

Die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly se Devan Coggan gee dit ’n D en beskryf dit as “ ’n totaal onnodige toevoeging tot die lang lys animasieprente wat in die Noordpool afspeel. Dit voel soos ’n laslappiekombers gemaak uit dele van ander suksesvoller en snaakser flieks. Die animasie lyk reeds verouderd en die storie is vervelig.”

– Sandra Visser