Kim Kardashian is oortuig sy gaan gou weer swanger raak.

Die 33-jarige ster glo sy en haar man, Kanye West (37), gaan binnekort hul eenjarige dogter, North, ’n boetie of sussie gee nadat ’n waarsêer voorspel het sy gaan binnekort swanger raak.

In ’n voorsmakie van Sondag se episode van Keeping Up with the Kardashians sê Kim aan haar suster Khloé (30) en broer, Rob (27): “My waarsêer het gesê ek gaan binnekort swanger raak.”

Die spiritistiese medium, wat genoem het Kim huil haar saans aan die slaap, het vir Khloé en Rob ook raad gehad.

Khloé, wat al openlik gepraat het oor hoe sy sukkel om swanger te word, het vir Kim gevra: “Gaan ek ooit kinders hê?”

Die donkerkopskoonheid het geantwoord: “Sy het gesê jy moet ’n spermskenker kry; die man gaan later kom.”

Maar voor Khloé kon antwoord, het Kim begin praat met Rob, wat aan kwaai depressie ly sedert hy baie gewig aangesit het. “Sy het gesê jy moet ’n hond kry, en jy ly nie aan bipolêre steuring nie,” het sy gesê.

In die video oefen die drie in die agterplaas ter voorbereiding op Kim se troue, wat verlede maand in Florence, Italië, gehou is.

Maar die werklikheidster se houding teenoor fiksheid en gesond eet het Khloé begin irriteer.

Khloé het aan die kamera gesê: “Kim praat net oor fiksheid en wat sy eet. Ek voel net alles ontaard in ’n kompetisie.”