Justin het saam ander bekendes soos Leonardo DiCaprio, Tom Hanks, Brad Pitt, Angelina Jolie en Ashton Kutcher aangesluit om deel te wees van sir Richard Branson se Virgin Galactic-ruimteredery.

Richard, die skatryk hoof van die Virgin-sakeryk, het Woensdag op Twitter bekendgemaak dat Justin en sy bestuurder, Scooter Braun (31), saam ruimte toe gaan.

“Bly om te hoor @justinbieber en @scooterbraun is @virgingalactic se nuutste toekomstige ruimtevaarders. Veels geluk! Sien jou daar,” het Richard getwiet.

“Kom ons skiet ’n musiekvideo in die ruimte,” het die popster in ’n twiet geantwoord.

Justin en Scooter het glo bykans R2,5 miljoen betaal om by die projek aan te sluit. Virgin se ruimtetuig het in April sy eerste supersoniese vlug ondergaan en hulle beplan om vroeg volgende jaar die eerste passasiers die ruimte in te neem. Ricahrd en sy gesin sal glo ook die reis meemaak.

Voor die popster na die ruimte kan reis, moet hy eers vir opleiding gaan en ’n toetsvlug in die Mojave-woestyn in Kalifornië onderneem.