Diegene wat nie Vrydag die ontslape Bokheld Joost van der Westhuizen se gedenkdiens by Loftus Versfeld kan bywoon nie, sal verrigtinge regstreeks vanaf 12:00 op Supersport se kanaal 201 kan volg.

Die diens kan ook op supersport.com gevolg word, maar geen ander kanaal gaan dit wys nie. Verrigtinge sal om 12:00 op Loftus Versfeld in Pretoria begin, waarna die amptelike gedenkdiens om 12:30 sal begin.

Die gedenkdiens is oop vir die publiek en belangstellendes word aangeraai om vroeg op te daag.

Die SAUK het die familie genader om toestemming om die diens ook op hul nuuskanale uit te saai, maar die familie het dit nie toegestaan nie.

Die gedenkdiens sal tot 15:30 uitgesaai word.