Dit het Amerikaanse kiesers, trouens almal wat die groot wedloop dophou, dadelik laat regop sit: 'n klaarblyklike ongestelde Hillary Clinton moet 'n 9/11-gedenkseremonie noodgedwonge verlaat en stort byna inmekaar voordat entourage-lede haar in 'n motor inhelp.

Dis die laaste ding wat veral haar veldtogbestuurders wou sien...Maar in watter mate het dié terugslag regtig Hillary se Withuis-vooruitsigte geknou? Ondanks gerugte is daar nog geen bewyse dat sy ernstige gesondheidsprobleme het nie: Die Clinton-kamp kon daardie floute-episode beter hanteer het. Hulle het eers taamlik laat, ná heelwat onsekerheid, onthul dat sy toe reeds twee dae lank met longontsteking rondgeloop het. Sy moes gevolglik van haar veldtogverpligtinge kanselleer. Die Demokrate het egter die hardnekkige gerugte dat sy nooit volkome herstel het van harsingskudding en 'n daaropvolgende operasie om 'n bloedklont te verwyder nadat sy in 2012 inmekaargestort het nie, as snert afgemaak. Trump-hulle het juis tot kort voor haar longontsteking-episode nog gesuggereer dat sy 'n ernstige mediese toestand wegsteek. Maar volgens 'n brief wat haar dokter in Julie laas jaar onderteken het, was Clinton in "'n uitstekende fisieke toestand".

"Perdfris" Trump ook maar traag met mediese besonderhede. As Trump verkies word, sal hy, op 70, Amerika se oudste president tot nog toe wees. (Ronald Reagan was, op 69, die oudste sover, en Hillary is self reeds 68.) Maar The Don het onlangs gespog oor sy gesondheid en oor hoe "wonderlik" hy voel. Tot dusver was vier paragrawe wat sy dokter binne vyf minute geskribbel het terwyl 'n Trump-limou buite sy spreekkamer daarvoor gewag het egter al wat hy oor sy gesondheid uitgereik het. Daarvolgens sou hy glo "die gesondste president wees wat ooit tot die amp verkies is". Intussen wag Amerika nog vir die "baie, baie spesifieke statistiek" van 'n onlangse gesondheidsondersoek wat Trump net ná Hillary se terugslag belowe het.

Groter openlikheid sal albei baat

"Hoe deursigtiger hulle oor hul gesondheidgeskiedenis is, hoe beter," sê Robert Shapiro, 'n politieke wetenskaplike by Columbia-universiteit. Hulle hoef ook nie alles openbaar te maak nie. Verskeie dokters kan byvoorbeeld hul rekords bestudeer en, sonder om besonderhede openbaar te maak, verklaar dat hul geskik is vir stellig die wêreld se belangrikste amp. Andersyds kan lede van die Amerikaanse kongres ook die inligting nagaan. Trump wen tans veld, maar Hillary kan weer op stryk kom. Sowat 'n maand gelede het Clinton volgens 'n gemiddelde syfer vir al die gesaghebbende Amerikaanse peilings met 45% teenoor Trump se 38% voorgeloop. Volgens dieselfde peilingsoorsig het haar voorsprong nou verklein na 44% teenoor 41%. Maar die dataontledingsfirma The Upshot reken sy het steeds 'n 80% kans om wel president te word. As sy spoedig weer haar normale veldtogprogram hervat en geen tekens van olikheid toon nie, sal die onlangse episode stellig gou weer vergete wees. Dat sy probeer deurdruk het met die 9/11-seremonie, al was sy so siek, kan trouens simpatie by baie kiesers wek.

Die presidensiële debatte kan wys hoe sake regtig staan

"Ons sien haar by die debat," het Trump gesê toe hy Clinton onlangs beterskap toegewens het. En Amerika - die ganse wêreld - sal nou nog nuuskieriger wees om te sien of sy hom in dié uitgerekte woordestryd gaan ore aansit. Dis immers waar die oorlog finaal gewen kan word.

Debatdatums: 26 September, 9 & 19 Oktober

BRONNE: AFP, Reuters, AP, CNN, uspresidentialelectionnews.com