Sowat 70 klagte is vroeër teen die Christelike skrywer ingedien oor uitsprake in haar tienerboeke Lyfslim vir Seuns en Lyfslim vir Meisies. Daarin staan onder meer dit is “hartseer” om homoseksueel te wees. 

“Ongeag wat die redes vir homoseksualiteit is (of jy nou met my saamstem of nie), dit bly hartseer. Sulke mense kan nooit op die normale manier kinders hê nie. En sou hulle kinders aanneem, sal die kinders nooit die wonderlike voorreg hê om ’n pappa en mamma te hê nie.”

Die uitsprake het groot kritiek in die sosiale media ontlok.

Buang Jones, bestuurder van die Gauteng-tak van die MRK, het gesê hulle ondersoek of enige regte geskend is.

 
Volgens Buang het hulle nog net met die hoofklaer in die saak gekonsulteer. Hy het verduidelik hulle kan eindelik besluit om die klag verder te ondersoek (waarna Gretha binne 21 dae moet reageer), die saak bemiddel of hof toe gaan. 

Hy werk saam met ’n span prokureurs om ’n regsmening in te win. Dit sal bepaal watter roete gevolg word. 

Volgens Buang moet ’n besluit oor die pad vorentoe teen die tweede week van Julie geneem word. Hy sê in die stadium is die interne proses nog in die beginfase.