George Clooney sleep glo vlerk by die Britse regsgeleerde Amal Alamuddin.

Die Gravity-akteur en die brunet het verlede week by die deftige eetplek Berners Tavern in Londen ’n intieme aandete geniet.

Volgens E! News is George se liefde van die oomblik ’n hoogs intelligente prokureur wat spesialiseer in internasionale reg, menseregte, uitlewering en kriminele reg.

Amal is ook een van die prokureurs wat die berugte WikiLeaks-stigter, Julian Assange, verteenwoordig in sy stryd teen uitlewering na Swede.

George (52) was ’n hele paar maande enkellopend nadat sy twee jaar lange verhouding met die voormalige WWE-stoeier Stacy Keibler (34) skipbreuk gely het.

Stacy het blykbaar in die Amerikaanse somer met die Oscar-wenner uitgemaak te midde van bespiegelinge dat werkverpligting hulle uitmekaar laat dryf het. George het ’n groot deel van die afgelope jaar daaraan bestee om sy rolprent The Monuments Men in Europa te skiet, terwyl Stacy in Los Angeles was om die werklikheidstelevisiekompetisie Supermarket Superstar aan te bied.

Stacy het verlede maand met die sakeman Jared Pobre begin uitgaan en die nuwe paartjie het onlangs ’n romantiese aandete geniet in Parys, Frankryk.