Die afgelope sowat twee weke word ’n vals gerug lustig deur Facebook-gebruikers versprei dat dié sosiale platform “vanaf môre” gebruikers se privaat inligting openbaar sal maak tensy jy die gerug help versprei.

Nêrens word egter genoem wanneer “môre” is nie. Ook g'n wonder nie, want dié gerug is niks meer as dit nie: net ’n wolhaarstorie. Om die sout nog verder in die wonde te vryf, is hierdie inskrywing ook glad nie nuut nie. Dit het reeds in 2012 kop uitgesteek en word nou bloot weer versprei.

Facebook het reeds die plasing as vals afgemaak in ’n verklaring etlike maande gelede.

Volgens die wolhaarstorie moet jy die inskrywing versprei of Facebook gaan alles wat jy al ooit gedeel het, openbaar. Selfs foto's en inskrywings wat jy al uitgewis het gaan glo weer die lig sien.

As jy die inskrywing deel, "verklaar" jy kamtig dat Facebook jou foto's en inligting privaat moet hou. Buiten dat dit 'n bogstorie is, het dit ook geen effek vanuit 'n regsoogpunt nie, sê Leana Engelbrecht, van Baker & McKenzie, 'n regsfirma in Johannesburg.

Sy verduidelik die gebruik van sosiale netwerke word gereguleer deur die spesifieke platform se gebruikersvoorwaardes en privaatheidsbeleid.

“Wanneer jy by ’n sosiale netwerk aansluit word jy gevra om die relevante voorwaardes te aanvaar. Wanneer daar enige veranderinge in hierdie voorwaardes sou kom, sal die gebruiker daaroor ingelig word en weer die geleentheid gegee word om die nuwe voorwaardes te aanvaar of nie.”

Sy sê dat netwerke hul bes doen om hul gebruikers se privaatheid te beskerm, binne die perke wat deur die gebruiker gestel word. Haar advies aan gebruikers van sosiale netwerke soos Facebook is om hul privaatheidstellings so te stel dat hul inligting so privaat as moontlik gehou word.

Hier is 'n tong-in-die-kies-weergawe van die gewraakte inskrywing wat gebruikers deel:

facebookgerug

In een van die 'egte' briefies wat die ronde doen, word daar na die UCC en die Rome-statuut verwys.

Nóg die UCC (wat staan vir The Uniform Commercial Code) of die Rome-statuut het enigiets met Facebook te make. Eersgenoemde het met internasionale handel uit te waai terwyl die Rome-statuut 'n internasionale verdrag is om met oorlogsmisdadigers af te reken.

In kort het hierdie inskrwying net mooi niks te make met jou privaatheidsverstellings nie en kan jy dit gerus ignoreer.