Noudat die knellende droogte in groot dele van die land met milde reën gebreek is, duur die versugting na reën voort in die Wes-Kaap. Dis ’n winterreënvalstreek, maar die damvlakke het verlede winter nie genoegsaam herstel om die stad deur die droë somer tot vanjaar se wintertyd te dra nie. Tog het mooipraat en selfs soebat van die stadsraad se kant nog nie gehelp nie, want steeds vermors duisende gebruikers water. Onvoldoende instandhouding van die infrastruktuur en uitermate warm dae, waarop meer water uit die damme verdamp, dra verder by tot die Kaap se waterkrisis.

In die laaste week van Februarie vanjaar het die vlakke tot 33 persent gedaal, ’n merkbare 1,5 persentasiepunte laer as die week vantevore. As voldoende reën dus nie binnekort uitsak nie, bly net sowat 120 dae oor voor die Moederstad sonder water sit.
Intussen byt Wes-Kaapse boere die (droë) spit nog verder af met ’n bykomende beperking van 10 persent op waterverbruik in die landbousektor. Dié beperking sal eers opgehef word wanneer damvlakke weer ’n gesonde 85 persent bereik. Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, vra onder meer die staat moet damme beter in standhou, kanale skoonmaak en die sand verwyder wat dit plek-plek moeilik maak vir water om te vloei. (Die Burger, 3 Maart 2017)
Vyf munisipale gebiede in die Wes-Kaap is reeds tot rampgebiede verklaar: die distrikte Sentraal-Karoo en Weskus en die plaaslike munisipale gebiede Witzenberg (Ceres en omstreke), Oudtshoorn en Laingsburg. Kannaland (Ladismith en omstreke), Hessequa (Riversdal en omstreke) en die Kaapse Metropool het aansoek gedoen om ook tot rampgebied verklaar te word.

Annette Venter, meteoroloog vir eNuus, sê dat die jongste langtermynvoorspelling wel nog op hoë gemiddelde reënval vir somerreënvalgebiede dui. Dit het veral betrekking op die herfsmaande Maart tot Mei.

“Dit word toegeskryf aan voldoende vog oor die suidwestelike dele van die Indiese Oseaan wat in die komende maande na verwagting oor Suid-Afrika sal beweeg.”

Temperatuursgewys kan daar op lang termyn ook bogemiddelde warm dae verwag word.

“Hoe nader ons aan die winterreënvalseisoen beweeg, hoe meer word die vraag gevra wat die langtermynvooruitsigte sal wees,” sê Annette.

“Ongelukkig is daar tot dusver nog geen teken van ’n bo- of ondergemiddelde reënvalseisoen in die vooruitsig nie.

“Voorspellings dui wel daarop dat ons weer deur ’n El Niño-fase sal beweeg – wat gewoonlik verband hou met droër toestande vir Suid-Afrika.

[caption id="attachment_162155" align="aligncenter" width="600"]Hier is die reënvalvoorspelling vir die drie oorvleuelende seisoene vanaf Maar tot Julie 2017. Regs is die uiterste weervoorspellings vir Maart tot Mei 2017. Bron: SA Weerdiens. Hier is die reënvalvoorspelling vir die drie oorvleuelende seisoene vanaf Maar tot Julie 2017. Regs is die uiterste weervoorspellings vir Maart tot Mei 2017. Bron: SA Weerdiens.[/caption]

“In hierdie stadium lyk dit, ten spyte van die onsekerheid, asof daar wel ’n stadige aanvang van die winterreënvalseisoen verwag kan word. Maar die langtermynvoorspelling dui redelik sterk op ondergemiddelde minimum en maksimum temperature vir die westelike dele van die land.

“Dit is gewoonlik ’n aanduiding van meer koue fronte wat te wagte kan wees.

“Kom ons hou vas aan daardie bietjie hoop vir goeie reën!” sê Annette. Hoe het sake in 2016 daar uitgesien? Van Maart tot Mei 2016 het die reën oorwegend ook eers einde Maart begin uitsak. Daarmee saam het die eerste sneeu geval. Dit was ’n wipwarit van swaar reën en koue weer tot uitermate warm dae. In April het dit woes gegaan met storms en stormsterk wind wat af en toe groot skade aangerig het.

Gepaardgaande met yskoue toestande het ook oorstromings voorgekom; om nie eens te praat van die stormsterk wind nie.