Net toe ons dink ons kan eindelik ons warm winterjasse en musse wegpak, verras die weer ons met 'n geniepsige kouefront wat talle streke die afgelope naweek in 'n wurggreep gehad het.

Nie net het Kapenaars gebibber met temperature wat ver onder 15 grade gedaal het nie, die Oos-Vrystaat is in 'n sprokiesland omskep ná hewige sneeuneerslae.

Kyk net hier hoe dik lê die sneeu buite Harrismith:

[caption id="attachment_137495" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

In KwaZulu-Natal is motors deur vloedwaters weggespoel en in dele van Mpumalanga was dit ook bitter koud.

Maar moet geensins moed verloor nie – dit lyk of dinge weersgewys hierdie week meer sonnig daar gaan uitsien.

“Die afgelope naweek se weer is baie tipies van die lente,” sê Cobus Olivier van die weerkantoor in Pretoria. “Die een dag lyk soos winter en die volgende soos somer.”

Hy voorspel dat die sisteme wat die kouefronte bring teen einde Oktober einde se kant toe sal staan.

“Die kanse dat daar weer kouefront gaan wees, is skraal, maar dis steeds moontlik,” sê hy. “Hierdie is ’n baie wisselvallig periode.”

Maar hoe lyk die weer vir die res van die week?

  • In Kaapstad is dit Maandag lekker warm met 'n verwagte temperatuur van 20°C, maar van Dinsdag af daal temperature weer tot tussen 17 en 19°C.
  • In Bloemfontein sal die temperature vandeesweek wissel van 20°C tot net onder 30°C.
  • Johannesburg beloof om die week warmer te wees met temperature van 22°C Dinsdag en 27°C Vrydag.
  • Pretoria se weer lyk belowend met 24°C vir Dinsdag voorspel en 31°C vir Vrydag.