Laat Donderdagmiddag het dit bekend geword dat die soektog afgelas is. En wat gewis een van die tergendste raaisels ooit is, is nog steeds nie nader aan 'n antwoord nie . . .

Moenie die program oor die opgrawings Sondagaand 18:00 op 18 Junie op Fokus (SABC2) misloop nie.

Sowat 5 m van die waterpyp was reeds oopgegrawe. Daar is wel beendere gevind, maar dit is vermoedelik dié van diere en nie die slagoffers nie.

Vroeër vandag

Die opgrawings was deel van ’n hernude poging om dalk die oorskot van die pedofiel Gert van Rooyen se slagoffers te vind.

Alet van Rensburg Wright, uitvoerende regisseur van die SABC2-aktualiteitsprogram Fokus, het Donderdag aan Huisgenoot gesê volgens die inligting wat hulle al die afgelope 15 maande ondersoek, is twee van die meisies moontlik onder die stormpyp en een daar naby begrawe.

Van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff, word met die ontvoering tussen 1988 en ’89 van minstens ses tienermeisies in die destydse Transvaal en Natal verbind.

Die slagoffers

Hulle is Odette Boucher (11), Joan Horn (12), Anne-Marie Wapenaar (12), Fiona Harvey (12) en waarskynlik ook Tracy-Lee Scott-Crossley (14) en Yolanda Wessels (13). Yolanda se ma, Babs, was Joey se suster.

Die egpaar se gruweldade het in 1990 tot ’n einde gekom toe een van hul slagoffers, Joan Booysen (16), in Pretoria ontsnap.

Van Rooyen het Haarhoff en homself toe doodgeskiet voor die polisie hulle kon aankeer.

Ons weet die gebied was wel aan Gert van Rooyen bekend

Maar Van Rooyen se misdaadverlede strek veel verder terug toe hy in die 1960’s weens diefstal tronk toe gestuur is. En in 1979 het hy twee meisies (10 en 13) glo ontvoer en seksueel aangerand.

Alet vertel iemand het haar gebel en daarna het sy inligting begin opvolg.

“Ons weet die gebied was wel aan Gert van Rooyen bekend,” het sy telefonies ’n entjie van die toneel af vertel.

Van Rooyen en Haarhoff het gereeld hul vakansiehuis sowat 50 km van daar in Umdloti besoek.

’n Span van die polisie se slagoffer-indentifiseringsentrum en ’n polisiehond het met die hulp van ’n laaigraaf, wat deur die oud-Springbok Gary Teichman beskikbaar gestel is, asook oudpolisielede wat geld ingesamel het vir nog ’n laaigraaf, hier die proses bespoedig om onder en om die stormwaterpyp te grou.

Alet het haar dank aan hulle asook die Kwadukuza-munisipaliteit betuig wat die ondersoek goedgesind is.

Odette se ouer suster, Natasha, was Woensdag met die opgrawing teenwoordig, maar het nie kans gesien om weer Donderdag daar te wees nie.

’n Polisiebeampte in die SAPD se kommunikasiekantoor in KwaZulu-Natal, wat nie geïdentifiseer wou word nie, het reeds Woensdag aan Huisgenoot bevestig dat die ondersoek na die pedofiel se slagoffers is, maar dat nog geen oorskot of bewyse gevind is nie.

Die beampte het toe Huisgenoot na brig. Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, vir nog inligting verwys.

Vish het egter Woensdagmiddag teenoor Huisgenoot beweer dat hy nie van die verrigtinge ingelig is nie en geïrriteerd gesê al is hy, sou hy hom “in elk geval nie daaroor uitgelaat het nie”.

Hy meen die hernude soektogte met die jare ontstel net telkens die slagoffers se naasbestaandes. Hy sal net iets oor die Van Rooyen bevestig as iets gevind word.

Alet het vertel al word niks gevind nie, gaan hulle steeds Sondagaand om 18:00 op SABC2 hul ondersoek uitsaai in die hoop dat enigiemand met nuwe inligting na vore sal kom.