James is die gunsteling-seunsnaam onder Britse beroepswedders vir prins William en sy vrou, Catherine, se baba.

Dié naam se kanse by die aanlyn weddiens Ladbrokes het die afgelope paar weke van 20/1 tot 6/1 verbeter. Almal wonder egter steeds wat William en Catherine hul eersteling gaan noem. Volgens gerugte gaan die baba, wat Saterdag 13 Julie verwag word, prins James van Cambridge gedoop word.

Ladbrokes sal wengeld van sowat R450 000 uitbetaal as James die koninklike baba se naam is. ’n Groot deel daarvan sal gaan aan ’n Londense klant wat R3 000 gewed het op die moontlikheid dat die koninklike egpaar hul baba James sal noem.

Jessica Bridge van Ladbrokes sê dis die grootste weddenskap wat die maatskappy nog gehad het oor ’n seunsnaam en dat dit die volgende paar dae baie ernstig opgeneem sal word. Ondanks al die opgewondenheid oor die naam James, is die beroepswedders steeds oortuig dit gaan ’n klein prinses wees.

In dié geval is die twee gunstelinge wat kop aan kop is die name Alexandra en Victoria. Charlotte (6/1) en Elizabeth (8/1) is ook gewilde keuses onder die wedders.