Inwoners van veral Gauteng, Noordwes, dele van Mpumalanga en Limpopo kan maar weet: Die volgende dae gaan dit nie net warm wees nie; dit gaan bloedig warm wees!

Volgens eNCA Weather gaan hoë temperature veral vanaf Vrydag in die genoemde sterke ervaar word. Dit sal na verwagting tot minstens Maandag voortduur. Annette Venter het hierdie gedetailleerde weerkaart gedeel. Sjoe, Musina, dit gaan kook aan jul kant.

In die Noord-Kaap gaan Upington en Kimberley veral smelt met die kwik wat in alle waarskynlikheid tot in die omgewing van 41 en 40 °C gaan styg.

Bloemfontein bly nie ver agter nie: Wees maar gereed vir ’n warm 37 °C.

Hoewel jy nie die versengende hitte kan vermy nie, kan jy ’n paar goed doen om dit draagliker te maak.

1. Moet nooit kinders, verswaktes of troeteldiere in ’n toe motor los nie.

2. Maak seker jy neem genoeg vloeistof in, selfs al is jy nie dors nie. Vermy drankies met kaffeïen en alkohol.

3. Eet kleiner maaltye en eet gereelder.

4. Dra ligte, ligkleurige klere wat nie styf sit nie. Linne en katoen absorbeer sweet en laat jou liggaam beter afkoel.

5. Bly indien moontlik binnenshuis en moenie op die warmste tyd van die dag oefen nie.

6. Neem gereelde ruskanse as jy buitenshuis moet werk.

7. Maak kort-kort seker jou diere het binne en buite die huis toegang tot vars water.

8. As jy jou hond vir ’n stappie moet vat, is dit beter om teeroppervlakke te vermy. Dit kan hul pootkussinkies brand. Kies liewers koers gras toe.

Diereliefhebbers: Onthou: Mopshonde (pugs) en Persiese katte se risiko vir oorverhitting is groter.

Kyk hier hoekom jy beslis twee keer moet dink voor jy 'n kind, 'n bejaarde of jou troeteldier in 'n warm motor los.

Wees ook gewaarsku: Tydens ’n hittegolf is hitte-uitputting en sonsteek van die grootste gevare. Maar weet jy wat die verskil tussen die twee is?

Simptome van hitte-uitputting

Uitermate sweet

Verwardheid

Duiseligheid

Asemnood

Borspyn

Krampe

Jy voel swak, maar het ’n vinnige polsslag.

Jou vel kan koel en klam voel, selfs hoendervleis hê, ten spyte van die hitte.

Hoofpyn.

Naarheid of braking.

Behandeling

Kry ’n koel omgewing en rus.

Drink koel water of ’n rehidreringsmengsel. Sportdrankies sal ook goed werk.

Jy kan jou eie rehidreringsmengsel maak: 1 L skoon water, ½ t sout en 6 t (gelyk) suiker. Roer tot die suiker oplos.

Vermy alhokol, selfs as dit die enigste beskikbare vloeistof, want dit veroorsaak dehidrasie, wat die toestand net sal vererger.

Kry onmiddellik mediese hulp as jou liggaamstemperatuur 40 ºC bereik.

So kan jy die risiko van hitte-uitputting help bekamp?

Dra ligte, ligkleure klere wat los pas sodat jou liggaam maklik kan sweet en afkoel.

Soek ’n koel plek waar jy teen die hitte kan skuil.

Vermy warm plekke soos geparkeerde motors.

Dra ’n ligte breërandhoed en smeer sonbrandolie aan die dele van jou liggaam wat aan die son blootgestel gaan word.

Neem gereeld en genoeg vloeistof in en rus af en toe iewers in die skaduwee.

Die beste is om op die warmste tyd van die dag uit die hitte te bly. Dit is waarom lande waar dit baie warm kan word aan hul siëstas glo en streng daarby hou.

Simptome van sonsteek

Kwaai hoofpyn

Disoriëntasie

Naarheid of braking

Kwaai dors

Jou liggaam voel swak.

Spierkrampe

Liggaamstemperatuur bo 40 ºC

Geen sweet, al is dit hoe warm.

Jou vel sal rooi, warm en droog wees.

Vinnige, vlak asemhaling

Stuipe

Behandeling

Ontbied dadelik ’n ambulans met die nodige noodhulppersoneel aan boord.

Maak seker jy’s op ’n koel plek in die skaduwee of verkieslik binnenshuis. As daar ’n vertrek met lugreëling is, des te beter.

Verwyder alle oortollige klere.

Probeer jou liggaamstemperatuur verlaag.

Waai koel lug om die vel af te koel of spons jou met ’n nat handdoek af. Jy kan selfs die tuinslang nader trek om jou mee af te spuit.

Klim in ’n yskoue bad water of staan onder ’n koue stort.

Plaas hoogstens 5 minute yspakke onder jou armholtes, in jou lies, op jou nek en rug; dit sal jou help afkoel.

Bel ’n hospitaal of dokter vir nog aanwysings as die ambulans nie gou genoeg opdaag nie.

So kan jy die risiko vir sonsteek verlaag

Bly uit regstreekse sonlig as die omgewings temperatuur bo 40 ºC styg.

Moenie wanneer dit baie warm en humied is uitputtende werk of oefening doen nie.

Drink gereeld vloeistof, al het jy nie dors nie, om moontlike ontwatering te voorkom.

Om die soute aan te vul wat jy deur oormatige sweet verloor, drink elektrolietryke sportdrankies of drink  twee tot drie keer per dag 'n soutpil saam met water.

Moenie alkohol drink nie; dit help dehidrasie aan.

Monitor die kleur van jou urine. Donker urine is ’n teken van ontwatering.

Mense wat epilepsie, hartkwale, nierprobleme of 'n lewersiekte het en beperkte vloeistof moet inneem, moet ’n dokter spreek voor hulle hul vloeistofinname verhoog.

Bronne: aspin-adventures.co.za,facebook.com/Gauteng-Weather-522344587824255/, republikein.com.na